Wêreld op hol oor leraar wat Koran wil verbrand
2010-09-09 00:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Den Haag - Die predikant van ’n gemeente met net 50 lidmate in Gainesville in die Amerikaanse staat Florida het die wêreld op hol met sy plan om eksemplare van die Koran in die openbaar te verbrand.
Eerw. Terry Jones beplan om dit Saterdag, op die herdenking van die 9/11-aanslae in 2001, te doen.
Die Wit Huis het dit veroordeel, terwyl die Amerikaanse minister van buitelandse sake, me. Hillary Clinton, dit as ’n “oneerbiedige, skandalige daad” bestempel het. Die minister van justisie, mnr. Eric Holder, het dit “idioties en gevaarlik” genoem.
Dit kan Amerikaanse soldate se lewe in gevaar stel, het genl. David Petraeus, opperbevelvoerder van die Navo-magte in Afganistan, uit Kaboel gesê. Dit sal volgens hom die Taliban en ekstremiste wêreldwyd ontstel.
In New York het ’n aantal Christelike, Joodse en Islamitiese leiers Jones se voorneme ook veroordeel en gesê hy praat nie namens die meeste Amerikaanse Christene nie.
In Kaboel het ’n skare woedende Afgane ’n beeltenis van Jones verbrand en leuses soos “dood aan Amerika!” en “Obama moet dood!” uitgeroep. ’n Groot betoging het ook in Djakarta, Indonesië, plaasgevind.
Die Engelstalige Libanese dagblad Daily Star het luidens berigte in die Europese media gesê die stap “sal waarskynlik ’n brand veroorsaak wat groot stukke van die aardbol sal verteer”.
Die Khaleej Times in die Verenigde Arabiese Emirate het dit as “mal en gek” bestempel. Jones self, wat blykbaar graag ’n pistool aan sy sy dra, het gesê hy verstaan die kommer, maar hy gaan voort met die verbranding.
Sy woorde aan CNN was: “Ons moet ’n waarskuwing aan radikale Islam rig: As julle ons aanval, sal ons julle aanval.”
Op televisie is ’n kennisgewing buite sy kerk gewys wat lui: “Islam is van die duiwel.”
Die Gainesville-munisipaliteit het ’n permit vir die verbranding geweier. Jones het gesê hy gaan hom nie daaraan steur nie.
Op kletswebwerwe het Jones taamlike steun van Amerikaners gekry. Tipies is dié inskrywing van ene Greg, wat skryf: “As Moslems ons vlag kan verbrand, waarom kan ons nie hul Koran verbrand nie? Dis nie die ‘Christelike’ weg nie, maar hulle het 3 000 Amerikaners op 9/11 vermoor. Dis sy reg. Burn, baby, burn.”