Sarkozy in sop oor aftreeouderom
2010-09-09 00:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Den Haag - Een van die grootste stakings in die Franse geskiedenis het pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk kniediep in die moeilikheid. Gister het volgens die vakbonde tot 2,7 miljoen Franse werkers in die strate van Parys en anders stede betoog teen die regering se planne om die aftree-ouderdom van 60 tot 62 te verhoog.
Die stelsel het heeltemal onbetaalbaar geword. Diegene wat in die geboortegolf ná 1945 gebore is, het reeds afgetree of doen dit een van die dae.
Hulle is opgevolg deur ’n beduidende kleiner volgende geslag, wat beteken dat al hoe minder jong mense al hoe meer oues moet onderhou.
Die regering wil ook 100 miljard (R930 miljard) euro in die volgende drie jaar besnoei om die begrotingstekort uit te wis. Onder meer moet 7 000 onderwysersposte afgeskaf word, en daarteen het sommige onderwysers vandeesweek ook begin staak.
Terselfdertyd probeer Sarkozy die bitter pil versoet deur allerlei populistiese maatreëls wat die groeiende xenofobie in die land voed. Hy het byvoorbeeld ’n paar duisend sigeuners uit die land geskop en hy berei tans ’n verbod op die dra van sluiers deur Moslemvroue in openbare plekke voor.
Dis reeds in Julie, net voor die somervakansie, deur die nasionale vergadering goedgekeur, en word binnekort in die senaat bespreek. Die wetsontwerp maak voorsiening vir boetes van 150 euro vir vroue wat oortree en 30 000 euro en ’n jaar tronkstraf vir mans wat hul vroue dwing om ’n sluier te dra.
Daarby word gewerk aan ’n wetsontwerp om die burgerskap van Franse burgers van immigrant-afkoms wat polisiebeamptes se lewe bedreig, weg te vat.
Desondanks daal Sarkozy se gewildheid steeds. Volgens ’n peiling keur 73% van die Franse die betogings goed.
Bowendien gaan die regering gebuk onder verskeie korrupsieskandale.
Die president het gister in ’n verklaring gesê hy sal klein veranderings aan die pensioenplan maak, maar nie op die beginsel toegee nie.