Nederland steun dalk Afrikaans met mosie
2012-02-02 22:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DEN HAAG. – ’n Mosie ter ondersteuning van die behoud van minstens twee Afrikaanse universiteite word Maandag aan die Interparlementêre Kommissie van die Nederlandse Taalunie voorgelê. Dit word deur ’n breë koalisie van linkse, sentrum- en regse partye gesteun.
Die Taalunie is ’n samewerkingsverband tussen die regerings van Nederland, Vlaandere en Suriname rakende die bevordering van die Nederlandse Taal.
Suid-Afrika het in 2010 ’n samewerkingsooreenkoms in Brugge met die Taalunie geteken.
Daar word verneem dat daar nogal frustrasie in Nederlandse en Vlaamse politieke kringe is omdat die Suid-Afrikaanse regering ná sy ondertekening van ’n Verklaring van Voorneme nog geen vinger gelig het om die samewerking met die Taalunie praktiese gestalte te laat kry nie.
Maandag se mosie word ingedien deur mnr. Martin Bosma, voorsitter van die kommissie en lid van die regse Partij voor de Vrijheid (PVV). Hy het egter nog agt Nederlandse en Vlaamse parlementslede van oor die politieke spektrum heen gekry om die mosie te onderteken.
Hulle is mnre. Harm Beertema (partygenoot van Bosma), Jack Biskop (Nederlandse Christen-Demokraat), Ward Kennes en Johan Verstreken (Vlaamse Christen-Demokrate), Boris van der Ham (Democraten ’66, gematig links), Wilfried Vandaele (Nieuw-Vlaamse Alliantie, konserwatiewe Vlaamse nasionalis), Philip Decoene (Vlaamse sosialis, gematig links), en Pauline Smeets (Nederlandse sosiaal-demokraat, gematig links).
In die mosie word verwys na die verslag van die kommissie onder voorsitterskap van prof. Jakes Gerwel in 2001 dat daar minstens twee Afrikaanstalige universiteite moet wees.
“Daarom rig die Interparlementêre Komissie ’n versoek aan die Komitee van Ministers van die Nederlandse Taalunie om die Afrikaanse taal binne sy moontlikhede aktief te ondersteun.”
- Volksblad