Nederland kwel hom oor Malema
2012-01-31 22:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DEN HAAG. – Terwyl Suid-Afrika en die wêreld nog wag op die uitslag van Julius Malema, leier van die ANC-Jeugliga, se appèl teen sy vyf jaar lange skorsing uit die party, het die Nederlandse minister van buitelandse sake erken dat Malema se uitsprake hom bekommer. Die minister, mnr. Uri Rosenthal, het geantwoord op vrae van twee parlementslede, mnre. Louis Bontes en Johan Driessen. Hulle is albei lede van die Partij voor de Vrijheid (PVV), die mees regse party in die parlement.
Met verwysing na Malema se posisie in die ANC het Rosenthal gesê: “Die uitlatings van Malema en die gewildheid wat hy geniet, gee rede tot kommer. Die ANC het met die besluit om Malema te skors duidelik gemaak dat dié party nie sy standpunt deel nie. Die appèl teen die skorsing van Malema sal noukeurig gevolg word.”
In antwoord op die vraag of Nederland weens Malema se posisie nie alle ontwikkelingshulp aan Suid-Afrika moet staak nie, het Rosenthal gesê Nederland werk saam met die Suid-Afrikaanse regering en nie met individuele politici nie. Hy het in dié verband verwys na die besluit verlede jaar dat ontwikkelingshulp aan Suid-Afrika stadigaan gestaak en met ’n normale handelsverhouding vervang sal word.
- Volksblad