Meer in Antarktika 20 m. jaar onder ys
2012-02-09 22:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
MOSKOU. – Russiese wetenskaplikes het die oppervlak van ’n reuse-varswatermeer in Antarktika bereik wat sowat 20 miljoen jaar lank onder byna 4km ys begrawe was.
Dit het hulle meer as 20 jaar gevat om deur die ys te boor.
Die hoop is dat die Vostok-meer vorms van lewe wat 20 miljoen gelede voorgekom het, kan bevat en dat dit leidrade kan verskaf wat die soektog na lewe in die buitenste ruim kan vergemaklik.
Mnr. Valeri Lukin, hoof van Rusland se Arktiese en Antarktiese Navorsingsinstituut (AARI), wat die projek bestuur het, het eergister bevestig dat hulle Sondag die oppervlak bereik het.
“Daar is geen ander plek op aarde wat meer as 20 miljoen jaar lank geïsoleer was nie,” het mnr. Lev Savatyugin, ’n navorser van die AARI, gesê. “Dit gaan ’n ontmoeting met die onbekende wees.”
Volgens hom hoop die wetenskaplikes om oer-bakterieë te vind wat meer lig kan werp op die ontstaan van lewe. “Ons moet gaan kyk wat ons hier het voordat ons sendings stuur na ysbedekte mane, soos Jupiter se Europa.”
Hoewel die projek moontlik groot deurbrake kan oplewer, het dit onder kwaai kritiek deurgeloop omdat die Russe sowat 60ton smeermiddels en teenvriesmiddel gebruik het vir die boorwerk, wat die ongeskonde meer onherroeplik kan beskadig.
Die navorsers het in reaksie gesê die boorpunt sal net aan die oppervlak raak.
Die druk wat ontstaan, sal die water in die boorgat laat opstoot, waar dit sal vries en ’n seël sal vorm wat die skadelike chemikalieë uit die water sal hou. Dit is nog onbekend of dit suksesvol was.
Wetenskaplikes sal in Desember, wanneer die kort Antarktiese somer weer begin, die bevrore water uithaal om te ontleed.
Hulle glo mikrobiese lewe kan dalk in die donker dieptes van die meer bestaan ondanks die hoë druk en voortdurende koue – toestande soortgelyk aan dié wat na verwagting bestaan onder die ys op Mars, Jupiter se maan Europa en Saturnus se Enceladus. )Die Vostok-meer is sowat 3,8km onder die ys onder die Russiese Antarktiese basis Vostok op die Oos-Antarktiese Ysveld.
Sy oppervlak is ongeveer 500m onder seevlak. Die meer is 250km lank en 50km op sy wydste punt. Dit is gemiddeld 334m diep. – AP en Wikipedia
- Volksblad