Iran dreig om EU se oliekrane toe te draai
2012-01-29 21:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
TEHERAN. – Die olieprys kan tot so hoog as $150 (R1'164) per vat styg weens die Europese Unie se verbod op die invoer van Iranse ruolie, het Iran se adjunkminister van olie volgens die amptelike Iranse nuusagentskap IRNA gesê.
“Dit lyk asof daar in die toekoms ’n prys van $120 tot $150 per vat sal wees,” het adjunkminister Ahmad Qalebani gesê.
Die Brent-ruolieprys het Vrydag tot nagenoeg $111,50 per vat gestyg weens die Iranse parlement se voorneme om daaroor te stem om alle uitvoer na die EU te staak.
Die Iranse regering oorweeg blykbaar ’n vyf- tot tienjaarverbod op die uitvoer van olie na die EU en kan moontlik reeds hierdie week uitvoer na die EU stopsit. Dit is uit weerwraak teen EU-planne om van 1 Julie vanjaar ’n verbod op invoer uit Iran te plaas.
Toenemende spanning tussen Iran en Westerse lande weens Iran se atoomenergie-program, asook die land se dreigemente om die Straat van Hormuz te sluit, het die olieprys sedert Desember reeds met $8 per vat opgestoot.
Kenners sê egter die wêreld sal teen die middel van vanjaar meer olie as tans hê, danksy ’n verwagte bykomende opbrengs uit lande soos Saoedi-Arabië, Irak en Libië.
Kenners sê verder die vraag na goedkoop Iranse olie uit China, Indië en kleiner Asiatiese lande wat nie die Westerse sanksies teen Iran steun nie, sal moontlik daartoe lei dat die vloei van die wêreld se olie nie stopgesit word nie, maar eerder herlei word.
- Reuters