Groot skat glo aan boord van wrak
2012-02-03 21:56
PORTLAND (Maine). – ’n Amerikaanse skattejagter beweer hy het die wrak van ’n Britse handelskip, die S.S. Port Nicholson, wat in 1942 tydens die Tweede Wêreldoorlog deur ’n Duitse duikboot gekelder is, ontdek en dat die skip tot 71 ton platinum aan boord kan hê.
Mnr. Greg Brooks, medebestuurder van Sub Sea Research, wil nou die stawe platinum ter waarde van sowat $3 miljard uit die romp van dié skip na die oppervlak bring. Die wrak lê glo sowat 80km vanaf die kus van Portland op ’n diepte van 213m in die Atlantiese Oseaan.
As Brooks se bewerings waar is, kan dit een van die rykste gesinkte skatte wees wat ooit ontdek is.
Kenners is egter skepties en as die skip wél nog kosbare metale aan boord het, kan die eienaarskap daarvan ’n ingewikkelde kwessie raak.
Brooks en sy bemanning het die skip aan sy rompnommer, wat hulle met ’n onderwater-kamera waargeneem het, uitgeken. Hulle beoog om die beweerde skattevonds later vandeesmaand met ’n afstandbeheerde robotiese onderwatertuig uit die skip te kry. “Op een of ander manier gaan ek dit kry, al moet ek die hele skip uit die water lig,” het Brooks gesê.
Mnr. Robert F. Marx, ’n onderwater-argeoloog, maritieme historikus en self ’n skattejagter, meen egter die bewerings moet skepties benader word.
Marx beweer sowel ’n Britse as ’n Amerikaanse maatskappy het destyds reeds na die inhoud van die skip gesoek en moes ten minste ’n gedeelte daarvan uitgehaal het.
“Die vraag is hoeveel platinum oor is,” het hy gesê.
Die skip was glo met 71 ton platinum na New York op pad toe dit deur ’n Duitse duikboot gekelder is. Ses mense is dood.
Die platinum was ’n betaling van die Russe aan Amerika vir oorlogsvoorraad.
Daar was volgens Brooks ook goud en diamante aan boord.
Brooks het glo die wrak reeds in 2008 met sonar ontdek, maar het gewag met die aankondiging totdat hy bergingsregte kon bekom.
Bergingsreg is nie dieselfde as die reg tot eienaarskap nie. Dít sal later in die hof bepaal moet word. ’n Verteenwoordiger van die Britse regering het gesê hulle sal wag totdat die skeepsinhoud na die oppervlak gebring word voordat hulle op enige regsoptrede sal besluit.
Brooks beweer hy het dokumente wat bewys dat die platinum aan boord was en dat hy en sy bemanning ’n staaf platinum, omring met bokse, op beeldmateriaal van ’n onderwater-kamera gesien het.– Sapa-AFP
- Sapa - AFP