Gemaskerde polisie slaan toe op opposisie-tydskrif
2010-09-09 00:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Moskou - Gewapende en gemaskerde Russiese polisielede het ’n klopjag op ’n tydskrif van die opposisie gedoen en verslaggewers gevra om onderhoud-opnames met betrekking tot beweerde gesagsmisbruik deur die gevreesde OMON-onlustepolisie te oorhandig.
Die New Times is een van Rusland se min prominente publikasies onder opposisie-beheer en publiseer onthullings van hoëvlak-korrupsie.
’n Paar polisielede het die tydskrif se kantoor hier betree en opnames van onderhoude gesoek oor ’n verslag in Februarie wat polisiebronne aanhaal waarin beweer word OMON-beamptes word toegelaat om hul mag te misbruik as hulle betogers uiteenjaag.
Die klopjag was deel van ’n laster-ondersoek deur wetstoepassers na voormalige en huidige beamptes wat deur die tydskrif ondervra is, sê me. Yevgenia Albats, redakteur.
Albats, ’n uitgesproke kritikus van die Kremlin, het geweier om die opnames te oorhandig en gewys op wetgewing wat joernaliste se bronne beskerm.
“Een van die bronne het sy naam gegee en die tweede?het die onderhoud toegestaan op voorwaarde van vertroulikheid en verskeie kere herhaal hy wil nie sy naam genoem hê nie, omdat dit sy lewe in gevaar sal stel,” het sy aan Reuters gesê.
Albats het wel later die 43 bladsye transkripsies oorhandig, maar geweier om die name van enige bronne te openbaar.
Moskou se OMON-afdeling van 2 000 lede loop onder kritiek deur van die Europese Unie en Russiese menseregtegroepe, wat glo die groep is te hardhandig met die uiteenjaag van betogers.
- Reuters