Gedoemde Costa Concordia ‘’n skatkis’
2012-02-03 21:56
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
ROME. – In die wanordelike ontruiming van die Costa Concordia het passasiers en bemanning byna alles aan boord agtergelaat – juwele, kontant, vonkelwyn, antieke ware, 19de-eeuse kristalglasware en duisende kunswerke.
Onder die kunswerke is 300 jaar oue houtblok-afdrukke deur ’n Japanse meester.
Dit is ’n skatkis wat nou onder die seewater lê waar die skip verlede maand gestrand het.
Hoewel sommige artikels uiteraard sal disintegreer, is dit net ’n kwessie van tyd voordat skattejagters hul visier sal rig op die Costa Concordia, wat meer as 4200 mense aan boord gehad het.
“Solank daar nog lyke is, word dit as ’n graf beskou en dus iets wat almal moet vermy,” het mnr. Robert Marx, ’n veteraanduiker en skrywer van talle boeke oor maritieme geskiedenis, ondersese argeologie en skattejagte, gesê.
“Maar sodra al die lyke verwyder is, sal daar ’n stormloop vir die skatte wees.”
Volgens hom het die mafia onderwaterspanne wat in wrakskatte spesialiseer.
Die Costa Concordia was wesenlik ’n drywende luukse hotel en baie van die passasiers het dié noodlottige skeepsreis aangepak met hul beste klere en juwele om in die casino’s en op gala-etes te paradeeer onder hoë plafonne behang met kandelare.
Daarbenewens was die massiewe passasierskip self $590miljoen (bykans R4miljard) werd en was dit vol waardevolle items, soos winkels vol juweliersware en meer as 6000 kunswerke.
“Dit is nou ’n duikerparadys,” reken Hans Reinhardt, ’n Duitse prokureur vir 19 Duitse passasiers wat vergoeding eis.
Voorlopig is die skip deur die owerhede geskut en omring deur reddingswerkers, skoonmakers en wetenskaplikes wat sy stabiliteit op die rotslaag dophou.
’n Dekreet is uitgevaardig om enigeen te verbied om binne een seemyl van die wrak te kom solank dit op dieselfde plek lê, het die kuswag gesê.– Sapa-AP
- Volksblad