Bio-terrorisme gevrees
2012-02-01 23:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KAAPSTAD. – Vrees dat wetenskaplike navorsing oor die dodelike H5N1-griep vir bio-terrorisme gebruik sal word, het die publikasie van nuwe resultate gekeer.
Die Amerikaanse Nasionale Wetenskap-adviesraad vir Bio-sekuriteit het pas sy redes bekend gemaak oor hoekom daar besluit is om die publikasie van die resultate van twee navorsingsartikels te beperk.
Die navorsing is afsonderlik in Rotterdam en Tokio gedoen en sou in die wêreld se mees vooraanstaande joernale, Science en Nature, verskyn het.
Sleutelbevindings moet weerhou word omdat daar ’n “gevaar is dat wetenskap opsetlik misbruik kan word en die gevolg kan rampspoedig wees”, luidens ’n verklaring wat gister in Science verskyn het.
Albei navorsingsgroepe beskryf spesifieke mutasies op die griepvirus se genoom wat dit toelaat om in druppelvorm tussen frette (’n klein, mak, muishondagtige Europese roofdiertjie) oorgedra te word. ’n Fret word beskou as ’n goeie model vir soogdieroordrag (dus ook ’n model vir die mens) van die virus.
In die natuur sal ’n weergawe van die virus wat maklik van mens tot mens oorgedra kan word, dus ’n dodelike wêreldwye pandemie tot gevolg kan hê. Die voëlgriepvirus is dodelik en mense kry dit baie selde, maar in sy huidige weergawe word dit nie van ’n mens tot ’n mens oorgedra nie.
Intussen het die wêreld se grootste griepnavorsinginstansies ’n memorandum onderteken om 60 dae lank alle soortgelyke studies te staak om kans te gee vir ’n internasionale debat. Dit is veral studies rakende soogdieroordrag.
Die aanbeveling is dat die eksperimentele metodes en data van die twee studies nie openbaar gemaak word nie. Die raad het gesê die besluit was ’n “keerpunt vir die lewenswetenskappe”, omdat navorsing ook moet voortgaan.
Tog is die “wêreld nie gereed vir die opsetlike vrylating van ’n hoogs aansteeklike A/H5N1-virus nie. Dit sal ’n ondenkbare ramp wees,” het die raad gesê.