Afrika wys SA se mag op vasteland het perke
2012-01-30 21:45
ADDIS ABEBA – “Afrika het gister aan die Suid-Afrikaanse regering gedemonstreer dat dié land se mag op die vasteland perke het.”
Só het dr. Jakkie Cilliers, uitvoerende direkteur van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), gister van die AU-spitsberaad in die Etiopiese hoofstad af aan Volksblad gesê ná dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se mislukte poging om voorsitter van die Afrika-Unie-kommissie te word.
Dlamini-Zuma en die huidige posbekleër, mnr. Jean Ping van Gaboen, het in ’n spanningsvolle verkiesingproses teen mekaar te staan gekom. Nie een kon egter in ’n reeks van drie geheime stemmings die vereiste tweederde-meerderheid behaal nie.
Die huidige adjunk-hoof van die AU-kommissie, mnr. Erastus Mwencha, neem tot Julie in Malawi waar wanneer weer oor die pos gestem sal word.
Cilliers sê deur Suid-Afrika se berekende veldtog het die regering die onuitgesproke AU-reël, dat nie een van Afrika se groot lande (Suid-Afrika, Kenia, Egipte en Nigerië) om die pos behoort mee te ding nie, oortree. “Suid-Afrika moes (deur dié ongekende teenstand teen hom in Afrika self) gister tot die besef gekom het dat Afrika multi-polêr is en dat die vasteland in koalisies van lande werk en nie ruimte bied vir ’n enkele groot land se invloed nie.”
Dit blyk dat al 15 lande van die Wes-Afrikaanse Ekonomiese Gemeenskap (Ecowas) en al die Franssprekende Afrika-lande teen Suid-Afrika gestem het.
Aanduidings bestaan ook dat selfs nie al die lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap vir Dlamini-Zuma gestem het soos verwag is nie.
Nigerië het vroeër in die openbaar gesê hy stem teen Dlamini-Zuma en alle aanduidings is dat Egipte die “aanslag” van al die Arabiese Afrika-lande in Noord-Afrika teen Suid-Afrika gelei het.
Benewens die verbreking van die “protokol-reël” dat kandidate van Afrika se kleiner lande vir dié betrokke AU-pos geoormerk word, is veral Wes-Afrika en die Franssprekende Afrika-blok baie kwaad oor Suid-Afrika se onlangse diplomatieke toetredes tot konflik-brandpunte in Afrika. “Suid-Afrika se swak buitelandse beleid het hom duur te staan gekom,” het nog ’n waarnemer gesê.
“Dis baie duidelik dat die teenstand teen Suid-Afrika toegeskryf is aan dié land se rampspoedige pogings om die voormalige leier van die Ivoorkus, mnr. Laurent Gbagbo, verlede jaar in die kussings te hou nadat hy die presidentsverkiesing verloor het.”
Wat ook aanleiding gegee het, is Suid-Afrika se mislukte rol in Libië ter ondersteuning van die Ghaddafi-regime, asook sy kortstondige betrokkenheid in Kenia by die nasleep van die geweld van die 2007-verkiesing daar, het nog ’n ingeligte gesê.
Sowel Libië se nuwe regering as die koalisieregering in Kenia het na verneem word ook teen Dlamini-Zuma gestem.
- Volksblad