We Need to Talk about Kevin
2012-01-27 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
We Need to Talk about Kevin
Drama
4/5
Met: Tilda Swinton, John C. Reilly, Ezra Miller, Rock Duer, Jaspar Newell, Ashley Gerasimovich
Regie: Lynne Ramsay
Eva Khatchadourian is ’n vrou in haar 40’s wat aanvanklik ’n betreklik sorgelose lewe as ’n reisjoernalis gelei het.
Haar man, Kevin, is ’n fotograaf, ’n tipies voorstedelike ou, vriendelik en toegewyd. Hulle het ’n seun, Kevin (16). Hul dogter, Celia (8), dra ’n oogklap. Skort hier iets?
Ramsay se fliek, gegrond op die roman met dieselfde titel deur Lionel Shriver, handel oor ’n hoogs geteisterde ma/seun-verhouding.
Die regisseur noem in ’n onderhoud dat sy “’n taboe wou aanpak: moederliefde. Wat doen jy as dié liefde totaal afwesig is?”
In die openingstoneel sien ons Eva (Tilda Swinton) wat iewers in Spanje betrokke is by ’n tamatie-oesritueel. Is dit werklikheid, of ’n droom? Kort hierna staan Eva voor haar erg verwaarloosde huis, die mure en deur besmeer met rooi verf. Selfs haar wrak van ’n motor is bygekom.
Sy skrop verbete om die huis te reinig van die aggressie van molesmakers, maar haar gewete laat geen reiniging toe nie.
Sy’s alleen, uitgeteer, ’n verstoteling. In fyn uitgewerkte terugflitse word haar ervaring van Kevin as kleuter (Rock Duer), opgeskote seun (Jaspar Newell) en tiener (Ezra Miller) geopenbaar.
Dis hewig verontrustend.
Haar gemoed as ma word van meet af aan getoets en afgebreek. Die stadige, opsetlik onsamehangende verhaallyn onderstreep hoeveel moeite en frustrasie dit van Eva geverg het om enige hegtheid met Kevin te vestig. Hy het dit met bykans skreiende, manipulerende gedrag bly saboteer.
Die spanningsopbou in We Need to Talk About Kevin word hoogs doeltreffend aangewend. Van vroeg af is die kyker bewus van onheilspellende tekens, maar die oomblikke van ware geweld wat totaal ontsenu, word onverwags losgelaat, wat die daad des te meer angswekkend en skokkend maak.
Kevin word dan ook in die oë van baie ’n soort Damien-persoonlikheid... selfs heftiger. Dié fliek is alles wat verlede jaar se Beautiful Boy nie kon bereik nie.
Hier oortuig die vertelling se verrassende verwikkeldheid en word die spanningslyn tot by sy breekpunt behou. Tilda Swinton se worstelende Eva is ’n kragtoer, veral omdat sy, op watter vlak van hulpeloosheid sy haarself ook al mag bevind, steeds geteister en ontnugter word deur haar eie onvermoë en nalating. Sy is op ’n morsige manier skrynend menslik.
’n Waarskuwing: Dis nié ’n fliek vir wankelmoediges nie.
Dit is emosioneel dreinerend, maar die moeite werd.
Ouderdomsperk: 16TSG. Tydsduur: 112 minute
Soortgelyke fliek: Elephant

Tilda Swinton speel die ma van die seun Kevin (Rock Duer) in die
onrusbarende fliek We Need to Talk about Kevin.