Uitstekende fliek vra meer as een kyk om te waardeer
2010-07-30 08:23
Inception
Wetenskapfiksie
Met: Leonardo DiCaprio, Marion
Cotillard. Regie: Christopher Nolan.
Met die donker, dreigende Inception bewys Christopher Nolan weer eens dat hy een van die mees talentvolle rolprentmakers van sy tyd is. (Asof ons dit nog sou betwyfel ná ’n kunswerk soos The Dark Knight.)
Leonardo DiCaprio vertolk die rol van Dom Cobb, ’n man met ’n unieke beroep: Hy spesialiseer daarin om mense te verdoof, hul drome te “betree”, en só waardevolle geheime inligting uit hul onderbewussyn te steel.
Dis korporatiewe spioenasie op ’n heel nuwe vlak en uiters lonend.
Uit die aard van die saak is dit ook ’n baie onveilige en onwettige werk, een wat Cobb bitter graag sou wou agterlaat, as daar nie ’n prys op sy kop was nie.
Uitkoms wink in ’n aanbod van die magtige Oosterse sakeman, Saito (Ken Watanabe), wat aan Cobb die uitdaging stel: Plant ’n idee, eerder as om een te steel, en kry só jou vryheid terug.
Cobb se kollegas dink dis ’n onmoontlike, mal onderneming, maar hy begin tog ’n span bymekaar kry: sy getroue handlanger, Arthur (Joseph Gordon-Levitt), en die verkleurman, Eames (Tom Hardy).
Die laaste lid is die jong student, Ariadne (Ellen Page). Haar taak is dié van argitek, die een wat die droomwêreld moet “bou” sodat dit bekend genoeg is vir die dromer om geen onraad te bespeur nie.
Maak dit nog sin sover?
Gewis is dié regisseur nie een vir ’n eenvoudige verhaallyn nie. Die fliek vra die kyker om te fokus, om te soek na klein leidrade en te let op die talle kruisverwysings, na ander flieks én esoteriese onderwerpe soos die Griekse mitologie (op sigself ’n droomwêreld).
Wat ons hier het, is ’n uiters ingewikkelde labirint.
Veral wanneer Cobb en sy span by die skatryk jong sakeman, Robert Fischer (Cillian Murphy), se onderbewussyn inbreek, raak dinge erg gekompliseerd en moet jy werklik kophou met die vlakke van drome binne drome.
Die leser sou dalk kon redeneer: Vanwaar die spanning, dis dan net ’n droom? Maar drome is gevaarlik en kan ’n lewe van hul eie ontwikkel. Dit is iets wat vergestalt daarin dat Cobb se oorlede vrou, Mal (Marion Cotillard), gereeld en gevaarlik op sy onderbewussyn oortree.
Terwyl die tyd min raak en jy begin vrees dat die diewe vir altyd in hierdie droom-limbo vasgekeer kan wees, begin jou hart so hamer dat jy jouself moet herinner: Toemaar, dis net ’n fliek.
Inception is waarlik een van dié flieks van die jaar.
Die spesiale effekte is skouspelagtig, sonder om oordonderend te wees. Wees op die uitkyk vir ’n gevegstoneel waarin die karakter Arthur met grasie deur ’n gewiglose omgewing “dans”, asook die beeld van die stad Parys wat letterlik op sy dak gekeer word.
Die akteurs speel goed, met die uitsondering van Page, wat nie heeltemal in die rol pas nie. ’n Hoogtepunt is die spitsvondige happerigheid tussen die karakters Arthur en Eames, komieklik in hul kontraste.
Soos met van Nolan se vorige flieks – veral die treffende Memento – is dit die soort fliek wat jy ’n tweede keer wil gaan kyk om weer te waardeer.
En ook, hopelik, om vir jouself die ontknoping uit te klaar. Want Nolan, ewig die poppespeler, plant reg aan die einde ’n laaste leidraad van wat werklik hier aangaan, ’n dubbelsinnige wenk wat jou hele gewaarwording van die verhaal sal verkleur.
Soos met daardie tipiese nagmerrie wat ons almal van tyd tot tyd het – die een waarin jy val en val – laat hy jou skielik, skokkend gaan voordat jy die finale ontknoping, die trefslag, kon beleef en begryp.
Ouderdomsperk: 13G. Tydsduur: 148 minute.