Pittige Afrikaanse romanse
2012-01-13 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
In die maand van die liefde open een van die eerste Afrikaanse romantiese komedies in donkiejare op die kringloop. Semi-Soet is ’n moderne, sjiek blik op jong, stedelike Afrikaanssprekendes en hul stormagtige liefdeslewe. Laetitia Pople het met van die spelers en skrywer gesels op die historiese wynlandgoed Vrede en Lust, naby Franschhoek, waar dit gedeeltelik verfilm is.
Die aktrise en rolprentvervaardiger Anel Alexander beduie geesdriftig met haar hande na die wavraggie chick lit wat sy deurgedraf het ter voorbereiding van die Afrikaanse romantiese komedie Semi-Soet, wat op 17 Februarie open.
Dit handel oor Jaci, ’n werkslaaf wat haar maatskappy van ondergang moet red deur vir ’n wynplaas se groot advertensiekontrak te beding. Die prent speel in die Boland en Johannesburg af.
Alexander en haar man, James Alexander, wat die medevervaardiger is, werk reeds sedert 2009 aan Semi-Soet.
In 2008 het hul hoog aangeskrewe dramatiese rolprent Discreet groot lof van resensente ontvang.
Dit is ’n eerlike besinning oor seks en handel oor ’n Christelike jong man (vertolk deur James), wat ’n prostituut (gespeel deur Anel) besoek. Wat volg is ’n openhartige gesprek oor seks tussen ’n man en vrou. Die rolprentpaar het daarna na iets “ligters” gesoek.
“Alles was eintlik my Engelse man se idee: dat ons iets heeltemal anders vir die Afrikaanse gehoor bied; iets wat die Afrikaanssprekende nie op ’n kommin, agterlike manier uitbeeld nie, maar as byderwets, intelligent en snaaks,” verduidelik die aktrise.
’n Vriendin het met die idee van The Model Boss vorendag gekom, hoewel dit volgens Alexander nog baie werk en ontwikkeling nodig gehad het.
Sy het die prent met die akteurs in die hoofrolle begin visualiseer.
Voorheen het sy in die sepie 7de Laan saam met die akteur Nico Panagio gewerk. Hy was perfek vir die manshoofrol, JP Basson, ’n gewetenlose sakeman wat groot maatskappye vir eie gewin sink.
Daarna het Alexander die aktrise en skrywer Sandra Vaughn genader om die draaiboek te skryf.
Vaughn vertel hoe sy toe ook sommer “per abuis” die rol van Karla, Jaci se beste vriendin, losgeslaan het. Dis ’n rol wat dié knap klugaktrise die geleentheid bied om haar komiese vaardighede ten beste te vertoon.
“Ek het nooit beplan om Karla te speel nie,” vertel Vaughn. “Toe hulle my vra om ’n oudisie vir haar af te lê, was ek skoon uit die veld geslaan.”
Vaughn het baie navorsing gedoen, na heelwat romantiese komedies gekyk en wyn geproe. Alles moes geloofwaardig wees.
Alexander verduidelik: “Dit was belangrik om die patroon van die Hollywood-romkom bykans slaafs te volg, maar dit ook getrou en eg Afrikaans te maak. Die dialoog moes werk en daar mag niks piesangskil-komedie in wees nie.”
Sy speel haar rol van Jaci met ’n lekker mengsel hardkoppigheid en weerloosheid. Deurentyd moes dié veelsydige aktrise ook haar hand op die produksieleisels hou.
Die regisseur is Joshua Rous, wat so ’n stylvolle sukses van Discreet gemaak het.
Vaughn, wat help skryf het aan die draaiboek vir Getroud met rugby en Fishy Fêshuns, vertel ewe geesdriftig hoe maklik sy haar teks aan Rous oorhandig het. “Jy werk so lank daaraan dat dit werklik soos jou baba word. Ek het egter nooit gevoel ek moes met hom baklei vir ’n sin of twee nie.”
Panagio, Suid-Afrika se naaste akteur (soos ’n kollega tereg opmerk) aan die outydse matinee idol, vind dié genre is nou ’n gunsteling, al is hy hier “bietjie van ’n alpha male”.
“Ek keer graag terug na komedie; dit is die lekkerste en die hardste werk. En dit was veral harde werk om in ’n Maserati rond te rits en in ’n helikopter te vlieg,” skerts hy.
Sy karakter is na aan dié se prokureur, Hertjie, gespeel deur die komediant Louw Venter (saam met wie Panagio ook aan Survivor gewerk het). Hul kwinkslae – veral ’n rap-toneel waarin die twee met strak gesigte uithaal en wys – dra by tot die andersoortige sjarme van die prent.
Alexander het ook as vervaardiger vir die fliek opgetree, iets wat heelwat spanning inhou. “Met Discreet het ek alles gedoen. Ek is met my blink rok na die rolprent se première. Daar het ek gou-gou die gehuurde rooi tapyt gaan uitrol en weer ná die tyd opgerol,” bieg sy.
Met Semi-Soet was sy nagenoeg 18 uur per dag doenig. “Jy is sowat 14 uur op stel, want Jaci is omtrent in elke toneel. Dan moet ek nog die dag se probleme uitsorteer en die volgende dag se woorde leer. Maar dit was die lekkerste span om mee saam te werk.”
Die rolprent is gemaak sonder ’n begroting vir plek (location). “Ek het tientalle wynplase in die Boland besoek, maar niemand wou ons tegemoet kom nie. Die prent is verlede jaar in een van die warmste somers in Kaapstad op Vrede en Lust, aan die voet van die Simonsberg, verfilm.
Dié vergunning kom danksy ‘sagte’ bemarking en subtiele plasing van Vrede en Lust se produkte in die prent.
Alexander vertel daar is dié tyd van die jaar nie ’n enkele druif aan die wingerdstokke nie en een van die sleuteltonele is juis ’n druiweplukkery, kompleet met die trappery daarna. “Al daardie druiwe is van plastiek, elke enkele een. Ek dink dit was R100 ’n tros!”

Sandra Vaughn het die draaiboek geskryf en slaan toe sommer ook die rol van Jaci se vriendin Karla los.

Die komiese Louw Venter is op sy stukke as JP se vriend Hertjie.

Anel Alexander speel die hoofrol in en is ook vervaardiger van Semi-Soet.

Nico Panagio is die aantreklike en suksesvolle JP Basson, wat moet voorgee om verloof te wees aan Jaci.
Foto’s: Indigenous Film Distribution