Musiek
2012-01-27 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op

Lou Reed & Metallica
Lulu
3/5
Lou Reed het sedert sy dae as voorbok van die Velvet Underground gehore gepolariseer. Een van sy solo-pogings, Metal Machine Music (1975), is destyds deur kritici óf as grensverskuiwend verklaar, óf as onluisterbaar afgeskiet.
Met Lulu, sy samewerking met die metal-ikoon Metallica, sit hy hierdie tradisie voort. Weer is daar diegene wat dit as prul afmaak.
Die kultuswebwerf The A.V. Club (www. avclub.com) het Lulu beskryf as “die oorbodigste superster-projek wat ’n mens minstens een keer móét hoor”. Hoe dit ook sy, Lulu sal niemand koud laat nie. Dit het ’n intensiteit en Reed tier soos ’n besete, dangerous old man teen ’n elektriese metal-storm.

Moordende intensiteit: Oasis sonder Liam is darem die luister werd
Dié masjien kort oemf
Noel Gallagher’s High Flying Birds
3/5
Ek lees al jare lank Britse musiektydskrifte soos Mojo, Uncut en Word met groot genot, maar kon nog nooit verstaan hoekom die andersins dodelik kritiese musiekpers op daardie Noordsee-eiland steeds bereid is om Oasis en die megalomaniese broeders Gallagher so ernstig op te neem nie.
Was dié twee bakleiende broers en hul groep se musiek ooit meer as ’n lekker dronk, turbo-aangejaagde huldeblyk aan hul groot helde, The Beatles?
Liam en Noel se paadjies het nou geskei (tot die Oasis-reünie wanneer die geld iewers in die toekoms opraak). Liam se Beady Eye is basies Oasis sonder Noel en laasgenoemde se (in Brittanje) solo-album klink soos, jip, Oasis sonder Liam en die res. Die deuntjies en ritmes is oudergewoonte aansteeklik.

Ceremonials
2/5
Die aanvallige Britse sirene Florence Welch en haar groep se fassinerende debuut, Lungs (2009), was besonder eklekties.
Wees dus gewaarsku: indien jy, soos hierdie resensent, erg was oor Kiss with a Fist en Hurricane Drunk, maar gemengde gevoelens gehad het oor die res, is daar ’n goeie kans dat Ceremonials nie by jou sal resoneer nie.
Haar tweede poging herinner aan die bombastiese musiek vir gimnastrades of die openingseremonies van die Olimpiese Spele; aan liedjies vir motoradvertensies; Enya; en minder geslaagde Bond-temaliedjies deur kwynende kunstenaars wat geld vir plastiese chirurgie nodig het.
Dis Kate Bush op anaboliese steroïede; ’n warmgemaakte weergawe van Annie Lennox met groot sierwiele en ’n afgesaagde haelgeweer van ’n uitlaatpyp.
As jy mal is oor die album se eerste groot treffer, Shake It Out, sal jy wel gaande wees oor Ceremonials.
