'Minister van musiek' ken wortels
2010-07-30 08:23
Die Suid-Afrikaanse musiekvervaardiger en musiekmaker Pops Mohamed is die aanbieder van die nuwe program Southern Rhythms, wat Sondae op SABC2 uitgesaai word.
Die program werp ’n blik op verskillende style van geestelike musiek in Suid-Afrika en daar word ook gesels met kunstenaars en kenners wat rolspelers is.
Mohamed het jare se ondervinding in die musiekbedryf – die belangstelling in musiek het reeds as kind by hom posgevat.
“My familie was baie musikaal,” vertel hy. “En in die tyd wat ek grootgeword het, was die musiektoneel ongelooflik vibrant, baie meer as vandag.
“Ek het onder meer musiek geleer by Dorkay-huis in Johannesburg. Ons het ’n Duitse onderwyser gehad en so ook Duits leer praat.”
Veral Mohamed se pa het hom aangespoor om ’n musiekloopbaan te volg.
“My pa het my aangemoedig om musiek ernstig as loopbaan na te volg en te kyk hoe dit sou verloop,” vertel hy.
“Ek het ook besef dat ek as musikant wou teruggaan na my roots; dat ek nie ’n popster wou wees nie.
“Ek wou daardie musiek herbesoek wat ’n mens in sjebiens gehoor het; happy songs wat nie noodwendig êrens opgeneem is nie; kwêla-musiek.
“Iets wat ek ook agtergekom het in daardie tyd, was dat baie radiostasies begin het om voorkeur te gee aan oorsese musiek.
“Om terug te gaan na my wor-tels het my hele siening van musiek verander. Jy kan nie vorentoe beweeg as jy nie ’n paar treë terug gee nie.”
Mohamed sou mettertyd ook oorsese besoeke aflê en in lande soos Australië tradisionele instrumente ontdek.
Van die instrumente wat hy deesdae kan bespeel, sluit in die Afrika-mondboog, die voëlfluitjie, die berimbau, die didgeridoo, die kitaar, die klawerbord, die kora en die duimklavier.
As musikant het hy al opnames gemaak in onder meer Suid-Afrika, Duitsland, Kopenhagen, Viëtnam, België, die VSA (New York), Noorweë (Oslo), Finland, Ierland, Zanzibar, Namibië en Engeland (Londen).
Hy bied ook werksessies aan en het verskeie albums soos Society Vibes – Pops Mohamed & Friends en Bushmen of the Kalahari op sy kerfstok.
Hy het in die 1990’s baie tyd in Londen deurgebring en daar aan ’n musiekalbum gewerk.
Mohamed se benaming as “Suid-Afrika se nie-amptelike minister van musiek” het ook heel toevallig gebeur, vertel hy.
“Ek was in Londen en sou die aand na ’n vertoning van Tracy Chapman in die Palladium gaan kyk. ’n Britse joernalis wou ’n onderhoud met my voer en met die dat ek ’n ekstra kaartjie gehad het, nooi ek hom toe saam. Hy het toe saamgegaan en tussenin ’n onderhoud met my gedoen. En die volgende dag lees ek in die koerant die ‘minister van musiek’-bynaam,” verduidelik hy al laggende.
Ná 30 jaar van musiekprogrammering vertel Mohamed dat hy ook met jonger klanke eksperimenteer. Sy betrokkenheid by Southern Rhythms, as ’n musikant met ’n bewustheid van sy wortels, is inderdaad heel gepas.
“Guy Lieberman, een van die regisseurs van Southern Rhythms, het my gesien by ’n optrede saam met ’n Xhosa-groep en gevra of ek in Kaapstad ’n optrede wou doen tydens die tyd wat die Dalai Lama Suid-Afrika sou besoek.”
Mohamed is daarna gevra om as aanbieder en musiekvervaardiger deel van die program te word.
’n Deel van sy taak is om musiek vir die program te verskaf – wat ook ’n vermenging van verskeie gelowe se musiek kan insluit.
Die reeks het ook sy eie uitdagings gebring.
Volgens die musikant moes hulle voor die tyd by die kerke wat hulle besoek, seker maak dat die speel van sekere musiek toelaatbaar is en dat dit uitgesaai mag word. “ ’n Mens moet dit respekteer.”
Hy vertel dat elke besoek wat hy vir die program gedoen het, spesiaal was, maar dat veral ’n besoek aan ’n pelgrimsoord in Kaapstad en ’n besoek aan die San-mense in Platfontein, waar jong mense steeds hul herkoms ken, vir hom uitgestaan het.
“Ek hoop mense se oë sal danksy die program oopgaan en dat die reeks mense sal leer om verskillende gelowe te respekteer,” sê hy.
“Al bid ons anders en in verskillende tale, dien ons tog een God.”
Southern Rhythms wys Sondae om 09:00 op SABC2.