Min Kodak-oomblikke in 2012
2012-01-13 06:00

Soms hoor ’n mens nog iemand praat van ’n “Kodak-oomblik”: ’n moment wat so spesiaal is dat ’n foto hopelik daarvan geneem word.
Dit kom uit ’n tyd toe die naam van dié Amerikaanse fotografiemaatskappy sinoniem was met foto’s neem.
Deesdae gee www.urbandictionary.com egter ook ’n hele rits minder positiewe nuwe woorde wat ontwikkel het uit die woord “Kodak” wat George Eastman self geskep het en in 1888 die eerste keer as ’n handelsmerk geregistreer het.
Die tweede ergste hiervan is om “Kodaked” te wees: dis wanneer jy ’n onvoorsiene en massiewe dataverlies op jou hardeskyf beleef.
Dié term is gebore uit frustrasie met wat Kodak se Easyshare-programmatuur ’n klompie jare gelede soms met gebruikers se rekenaars laat gebeur het...
Die heel ergste is die hedendaagse betekenis van “Kodak” self – “enigiets oud, uitgedien, uit die mode, irrelevant en passé”. Ja, die digitale era het Kodak in die donkerkamer laat agterbly, en van ontwikkeling was daar nie genoeg sprake nie.
Die maatskappy het in 1997 laas ’n winsgewende jaar gehad en einde Desember het drie van sy direkteure kort ná mekaar bedank.
Fotodruk-outomate en ’n reeks amper interessante digitale kamera’s is omtrent al waarop gewone verbruikers nog die Kodak-naam sien, en dit gaan kennelik nie die maatskappy red nie.
’n Kodak-produk-reeks wat wel iets vars bied, is die maatskappy se nuwe alles-in-een-inkspuitdrukkers.
Die produkte in dié reeks, waarvan die ESP 2170 vir sowat R1 500 die aggressiefste in Suid-Afrika bemark word, bied benewens die gebruiklike ook ’n klompie baie interessante innoverings. Die eerste hiervan is die vermoë om via Wi-Fi met jou kantoor- of tuisnetwerk te verbind, sodat jy Google Cloud Print of Kodak se eie Email Print kan gebruik om ’n foto van enige plek met internettoegang te stuur om gedruk te word.
As jy Kodak se Pic Flick op jou selfoon of tabletrekenaar laai, kan jy dit selfs op dié manier laat druk.
Tweedens is daar die intelligente papier-sensor, wat die drukkerverstellings outomaties aanpas na gelang van die soort papier wat gevoer word.
Derdens kan die ESP 2170 driedimensionele foto’s druk. Jy het nou wel een van daai spesiale 3D-brille nodig om die resultaat te sien en dis waarskynlik net ’n foefie, maar tog.
Die ESP 2170 se beste eienskap is waarskynlik nie die tegnologie nie, maar die ongekende lae koste van sy inkvervanging: minder as R100 vir sowel die swartink- as die driekleur-kasset.
Vergeleke met ander inkspuit-drukkers waarvan twee keer se inkvervanging maklik soveel kos as die drukker self, is dit al genoeg rede om die ESP 2170 aan te skaf.
Die volgende vraag, waarvan ek nog nie die antwoord weet nie, is hoe lank dié goedkoop kassette hou?
En, amper net so belangrik, hoe lank Kodak nog gaan hou?