Lag op maat van musiek
2010-06-04 06:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
‘Vet pret”, beskryf Die Rolmodelle hul vertoning op die Volksblad-kunstefees (6 tot 11 Julie op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat) in Bloemfontein.
En Elzabé Zietsman waarborg ’n kabaret “op ’n ligter noot”.
Nataniël vertel allesbehalwe die waarheid in “die ware verhaal van Swanemeer” en tannie Kotie van die Casper Rasper weer show skop “ná al die jare steeds die skaap se boud” in Pantser jou lelie.
Vir ’n stewige skep komedie op jou musiekbord hoef jy nie verder te soek as dié vier vertonings nie.
Die Rolmodelle
Dié boy band met sy vier swaargewiglede gaan die fees tot in sy fondamente skud. “Volmaak en volrond” is hulle – Thys die Bosveldklong, Zak van Niekerk, Gerhard Odendaal (Vaatjie van Vaatjie sien sy gat- en Molly en Wors-faam) en Jaco Labuschagne.
“Ons het besef dat rond die volmaakte vorm is,” het Thys aan Anna-Retha Bouwer gesê. “As jy gaan kyk, sal jy sien die aarde is rond, die son is rond en ’n doughnut is rond. Daarom sal mense gou besef dat Die Rolmodelle werklik almal se rolmodelle is.
Om só goed te lyk kom nie vanself nie! Vir daardie lyfies volg hulle ’n streng dieet met hope “vleis, biltong en braaivleis”.
Die viertal maak van bekende wysies hul eie, nuwe liedjies, maar glo veral in die belangrikheid van choreografie. “Al vier lede het hulself reeds op die gebied van die drilpeleton bewys,” sê Thys heel ernstig.
“Ons is die land se nuwe antidepressant,” sê Zak.
Die Rolmodelle gee net een vertoning, maar dit duur 135 minute – meer as twee uur van “vet pret”.
- Absa-Kovsiekerk, 8 Julie om 20:00. R100

Die Rolmodelle is van links Thys die Bosveldklong, Gerhard
(Vaatjie) Odendaal, Zak van Niekerk en Jaco Labuschagne.
Pantser jou lelieDie geliefde ou pruilbektannie Kotie de Villiers praat oor sake van die hart, sake van smart, koeksisters en koekerige susters. Dié keer lewer tannie Kotie ook ’n motiveringspraatjie vir vroue oor hul lelies en vir mans oor hul pampoenstingels, so tussen liedere en dansies deur.
Pierre Louis le Grange is die teksskrywer, Rieneke Viljoen begelei, Marna de Wet is die regisseur en Kotie de Villiers speel tannie Kotie.
- Eunice-hoërskoolsaal, 7 Julie om 20:00 en 8 Julie om 10:00. 60 minute. R 80
En op ’n ligter noot
Elzabé Zietsman sing en gesels satiries oor oudword.
Pleks van klaagliedere aan te hef oor brille, pille en knakkende koppe, haal sy die komiese uit dié onafwendbare stadium in die mens se lewensbaan.
Die snaakse kom wel saam met ’n skeppie om oor na te dink, maar die meeste sal jou laat lag.
Elzabé gebruik dieselfde span wat saam met haar in 2008 ’n Kanna op die KKNK vir
Agter glas verower het.
Agter glas was daardie jaar ook op die Volksblad-fees.
Emma Bekker is die teksskrywer, Maralin Vanrenen die regisseur en die talentvolle Janine Neethling die musiekleier.
- Kunstetrust-Odeion, 7 Julie om 21:00, 8 Julie om 10:00. 75 minute. R90
Swanemeer: Die ware verhaalNataniël sing in dié produksie nie ’n noot nie; hy is gans te besig om die sage te vertel van ’n baie klein dorpie waarvan die inwoners baklei, bedrieg, veroordeel en hulle teen verandering verset.
Maar dis veral hul verhoudings waaroor Nataniël veel te sê het – in temerige trant en met sy kenmerkende droë humor, terwyl die Vrystaatse simfonie-orkes Tsjaikofski se
Swanemeer-balletmusiek speel, die wáre musiek.
As bonus speel die oud-Bloemfonteinse pianis Charl du Plessis Chopin se variasies op
La ci darem la mano vir klavier en orkes ter viering van dié komponis se 200ste geboortejaar.
- Kunstetrust-Odeion, 6 Julie om 19:00, 7 Julie om 10:30. 80 minute. R150 (6 Julie), R120 (7 Julie). Bespreek by Computicket, Mimosa Mall-inligtingstoonbank of Izami by 051 436 6179.