Kêrels kan kook vir liefde
2012-01-13 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Alleenloper-mans kan hul man eersdaags agter die kospotte staan en bewys die pad na ’n vrou se hart loop dalk ook deur die maag.
Kêrels wat kook is ’n nuwe realiteitsreeks wat op 5?April om 20:00 op kykNET uitgesaai word en deur Penguin Films vervaardig word, het me. Mia Breet, inhoudsdirekteur by Penguin Films, gesê.
Dié reeks, wat oorspronklik met die titel Love Bites gespog het, is reeds met groot sukses in verskeie Europese lande vervaardig.
“In Kêrels wat kook moet die manne nie net die kookwerk doen nie; hul sjarme moet ook kook, want in hierdie realiteitsreeks is dit die dames se beurt om kieskeurig te wees,” het Breet gesê.
Nege mans – drie per vrou – moet hul kookvernuf inspan om die guns van dié drie vroue te probeer wen.
Elke vrou sal haar drie amateur-sjefs op ’n toeoog-afspraak by sy huis ontmoet om sy kookkuns te beproef.
Hy sal sy geraamtes in die kas moet toesluit omdat sy leefstyl ook onder die vergrootglas beland, het Breet gewaarsku.
Ná al drie afsprake sal die fynproewers hul potensiële maat na ’n laaste afspraak by ’n spoggerige restaurant in Kaapstad nooi waar twee van die manne uitgeskakel word.
Die reeks, bestaande uit 13 episodes, word volgende maand en in Maart verfilm.