Die goue geheim lê in die sakke vol pret
2012-01-13 06:00
Neem kennis, want van die akoestiese komediegroep The Brothers Streep gaan jy in die toekoms nog heelwat hoor.
Hul plaaslike aanhang kom nou al ’n rukkie aan, sedert die vervaardigers van Idols hulle gevra het om ’n parodie op te voer by die oudisies van verlede jaar se reeks. Die beoordelaars het hiervan niks geweet nie. Dié optrede is in die eerste episode van die reeks uitgesaai en was ’n treffer, so ook die video op YouTube wat nou al bykans 45 000 keer gekyk is.
Toe is hulle natuurlik gevra om by die Idols-eindstryd op te tree en die res is geskiedenis. Sedertdien het hulle die komiese musiekvideo The Secrecy Bill op die internet gelaai (dit spot met die omstrede inligtingswet) en pas is hul 2010-album, Suitable for the Whole Family, weer uitgereik, nou met die Idols-lied en ’n hele paar ekstra’s daarop.
Maar wat is die oorsprong van dié eiesoortige groep? Simon van Wyk vertel dat hy en Dylan Hichens ’n paar jaar gelede gedink het om ’n soort koor-sanggroep te stig. Hulle is geïnspireer deur onder meer die musiek van die fliek O Brother, Where Art Thou?
“Maar ons was baie sleg,” erken hy laggend. Toe is hul aanslag aangepas om meer komies te wees en mettertyd het hulle hul eie liedjies begin skryf. Later het die groep – wat oorspronklik bekend was as The Meryl Streep Screachers – hul naam verander na The Brothers Streep.
Vandag bestaan The Brothers Streep uit vyf lede: Simon en Dylan, Tim Price op tromme, Tim Smith op die klawerbord en Richard Graham op die baskitaar. Hulle het dus twee voorsangers (Simon en Dylan) en verder “sal die res van ons hulle onderbreek waar nodig”, skerts Richard.
Die afgelope paar jaar het hulle die krag van die internet ontdek. Hul webwerf is buitengewoon interaktief en video’s word amper daagliks gelaai.
“Die webwerf het regtig ’n groot rol in ons sukses gespeel,” beklemtoon Tim Price.
Dit het byvoorbeeld daartoe gelei dat hul lied en musiekvideo The Anna Paquin Syndrome in die oorsese TV-geselsprogram The Graham Norton Show gewys is toe dié aktrise ’n gas daarin was. Wat was haar reaksie?
“Wel, sy het gelyk asof sy effens onkant betrap is,” laat hoor Tim Smith.
“En later het sy blykbaar vir haar kêrel gesê sy vind dit vleiend, maar redelik vreemd,” voeg Dylan met ’n glimlag by. “Maar van daar af het dinge regtig vir ons begin gebeur.”
Wat is hul mikpunt? Wil hulle heeltyds musiek maak en uiteindelik die wêreld verower? (Hul webwerf noem byvoorbeeld drome van ’n musiekspel, maar intussen het hulle almal heeltydse werk.)
Simon grinnik: “Ons sal sien; ons kyk maar hoe dit gaan. Ons is almal baie toegewyd om die musiek te neem so ver as wat dit kan en dit aan te hou geniet. Ons sal nou begin werk aan nuwe liedjies vir ’n nuwe album en sal graag meer wil toer.”
Tim Smith neem dit ’n treetjie verder: “En ons sal baie graag op Noot vir Noot wil speel!”
Maar dit stop nie daar nie. Hul uiteindelike doel, spot die ander Tim, is om ’n suksesvolle Afrikaanse CD te maak, iets soos Treffers vir die langpad of ’n liedjie soortgelyk aan Toeter op my waterskoeter.
’n Mens kan maar net lag, wat hul gehore ook doen. Dié groei by die dag. Die rede vir hul sukses is eenvoudig, meen Van Wyk.
“Ek dink mense geniet die pret daarvan. Ander musiekgroepe is baie ernstig en daar is niks fout daarmee nie, maar ons verkies die pret-spektrum. Op die verhoog maak ons nie asof ons die koelste groep ooit is nie, ons geniet dit net.”
Dit help ook dat hul musiek beskryf kan word as “gesinsvriendelik”.
“Dis nogal interessant om die ouderdomspektrum van ons aanhangers te sien. Hulle is van agt jaar tot 80 jaar oud,” verduidelik Tim Smith.
Hier kan Simon homself net nie help nie: “Ja, 7-jarige kinders haat ons!
“Nee, ek spot. Dit ís verstommend om te sien waar ons musiek werk. Ons het onlangs opgetree in ’n motorfiets-kroeg in Bellville en gedink dit gaan glád nie werk nie, maar die
ouens was mal oor die musiek.”
Met die gebeure rondom die inligtingswet einde verlede jaar was hulle baie vinnig om ’n parodie, The Secrecy Bill, op te neem.
Ondanks dié stukkie slim politieke kommentaar voel hulle nie werklik genoop om die rol van politieke hofnar te speel nie.
“Ons het nooit regtig daarop gefokus om ’n politieke stelling te maak of ’n rol te speel in politieke kommentaar nie ... Dis meer ’n geval van gebruik wat voor jou neus is,” verduidelik Simon.
Maar ja, sê Tim Price: “Dit is beslis so dat jy met satire kan wegkom met ’n bietjie meer.”
- Vir meer besonderhede oor die groep en ook om hul musiekvideo’s te kyk, besoek www.brothersstreep.com.