Cruise bring beste aksie van 2011
2011-12-15 22:14
Mission: Impossible – Ghost Protocol
Aksie/spanning
Met Tom Cruise, Jeremy Renner, Simon Pegg, Paula Patton en ander.
Regie: Brad Bird
Een ding moet ’n mens erken, of jy ’n Tom Cruise-aanhanger is of nie: Die man is ’n ster.
Agt en twintig jaar nadat hy met Risky Business in hemp, onderbroek en sokkies rolprentkykers se bewussyn binnegedring het, is hy steeds ’n faktor om mee rekening te hou.
Dit is ondanks ’n paar minder goeie keuses in die laaste dekade, insluitende opmerkings oor sake wat hom nie aangaan nie en wat hom doodgewoon dom laat klink het, én sy aanhang van ’n geloof wat vir baie mense raar bly. Dan was daar ook gedrag wat menige ander akteur se loopbaan sou kelder – soos die lelike manier waarop hy van een vrou ontslae geraak het en toe met ’n op-en-af-springery op Oprah se rusbank sy liefde vir ’n nuwe een geadverteer het.
Mission: Impossible was’n treffer in 1996 en ’n opvolgprent was vanselfsprekend. Dit was vermaaklik genoeg. Nommer drie was baie sterker. Hier is nommer vier nou en dis ’n heerlikheid. Agent Ethan Hunt is met mening terug.
Die gebeure skop af met ’n ontsnapping uit ’n tronk, dan ’n ontploffing in die Kremlin, en Hunt se organisasie word ontbind.
Net hy en drie oorblywende spanmaats moet ’n formidabele booswig stuit. Dié is boonop ’n Rus (wie maak beter rolprentskurke as die Russe?) wat ’n kernoorlog wil teweegbring. Die uitvaagsel kry ongelukkig net te min tyd op die skerm. Van eindelose hulp is dat Cruise in Brad Bird ’n puik aksieregisseur het: ’n Mens kan skaars glo dat hy nog net vir animasieprente (hoewel baie goeies soos The Incredibles en Ratatouille) verantwoordelik was.
Selfs al het die draaiboek soveel probleme gehad soos Cruise se laaste aksieprent, Knight and Day, wil jy vermoed Bird sou die wa deur die drif kon trek.
Die fliek is vol interessante, taai situasies. As jou handpalms byvoorbeeld nie sweet ’n uur ná die begin nie, is jy ’n professionele bergklimmer.
Cruise se voorliefde om sy eie gevaarlike toertjies uit te voer, versterk die geloofwaardigheid.
’n Groot gedeelte van die tyd word opgeneem deur die kollig op die karakters se binnewerking te plaas.
Niemand sal dit met ’n sielvolle drama verwar nie, maar daar is genoeg emosie dat die kyker omgee wat met hierdie mense gebeur, en só styg dit verder uit bo die generiese produkte van ander aksiesterre soos Jason Statham en Vin Diesel.
Cruise mag al deur medespelers oorskadu gewees het (Ken Watanabe in The Last Samurai, Jamie Foxx in Collateral), maar selfs met aandagstelers soos Simon Pegg en Jeremy Renner in die rondte weet jy wie se fliek is dit hierdie.
Hier is dit uiteindelik in die tweede helfte van Desember: die jaar se lekkerste aksieprent.
Liewer laat as nooit.
– François Bloemhof
Ouderdomsperk: 13G.
Tydsduur: 133 min.
- Beeld