Courageous
2012-01-27 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Courageous
Drama
3/5
Met Amy Mitchell en Nathan Hays
Regie: Alex Kendrick
Voordat jy met die springmielies en koeldrank kan terugsit, moet jy eers besluit waar jy staan as dit by die genre van Christelike flieks kom.
Courageous, ’n dapper poging met die steun van kerklike organisasies wêreldwyd, is Ster-Kinekor se tweede uitstappie in ’n tot nog toe meestal onverkende spirituele rigting.
Die rolverdeling is besaai van onbekendes, maar die oorweging vir die fliek is nie populisties nie, eerder geestelik – die vervaardigers wil jou laat glo dat dit handel oor die vernuwing van ’n sterk morele kode vir pa’s en nie oor geld nie.
Die fliek se tempo wissel van aksiebelaai en vinnig tot te stadig, en vertel van vier gesinne in ’n klein dorp wat worstel met kwessies om vaderskap.
Dit poog ambisieus om ’n kettingreaksie te veroorsaak deur pa’s in Angus Buchan-styl hul kernrol in die gesin te laat terugneem om van die samelewing ’n beter plek te maak.
Wanneer ’n tragedie een van die gesinne tref, besef die kyker hoe groot ’n invloed hierdie soort fliek op sy gehoor kan hê.
Die prent sal sterk spreek tot gelowige mense en daar is heelparty tonele waarin die gehoorlede hul oë toemaak, saam bid en kliphard “amen”.
Sommige huil openlik.
Die fliek se erge voorspelbaarheid en die soms geforseerde spel kan amper vergewe word aangesien dit tog, vir Christene, daardie enkele magiese bestanddeel bevat wat tot oud en jonk se hart (en gewete) sal spreek – die krag van geloof.
Christelike gelowiges en kerklikes sal mal wees oor dié een.
Sinici, ateïste en nie-religieuse mense sal egter waarskynlik nie daarby aanklank vind nie.
Ouderdomsperk: 13MV. Tydsduur: 130 minute.
Soortgelyke prent: Faith Like Potatoes.

’n Pa probeer die band met sy seun verstewig in die Christelike fliek Courageous.