Verhaal van leeutjie in Londen nou in boek
2012-02-02 22:33
Anton Meijer en Tammy Abrahams
KAAPSTAD. – Die YouTube-video oor Christian die leeu, wat mense na hul sneesdoekies laat gryp, gaan vir John Rendall, Christian se troeteldier-eienaar, oor meer as net die nostalgie.
Rendall en sy vriend, Anthony Bourke, het Christian as ’n drie maande oue welpie in Londen gekoop.
“Christian was een van twee welpies wat in Harrods in ’n klein hokkie aangehou is. Ek het al my geld wat ek gespaar het om deur Europa te reis, gebruik om hom te koop,” het Rendall in Kaapstad aan Volksblad gesê. Hy het die moederstad vir die bekendstelling van sy boek A Lion Called Christian besoek.
Christian is grootgemaak in Sophisticat, ’n meubelwinkel waar Rendall ’n verkoopsassistent was. “’n Kerk naby die winkel het ons toestemming gegee om in hulle erf met Christian te speel.”
Rendall en Bourke het besef dat hulle Christian nie langer sal kan aanhou nie, aangesien die welpie vinnig in ’n groot leeu verander het. Met die hulp van die bekende leeukenner George Adamson is Christian in die wildernis teruggeplaas.
’n Jaar later het die twee vriende teruggegaan om te kyk of die leeu hulle nog herken.
“Dit was ’n baie emosionele oomblik toe ons hom weer sien. Hy het ons ’n hele jaar nie gesien nie, maar het ons steeds onthou.”
Die video van die gebeure het miljoene kykers na YouTube gelok.
Volgens Rendall is die video juis so gewild omdat ons almal al van iemand afskeid moes neem. “Hierdie video roep sulke herinnneringe by mense op. Dit is soos wanneer mense op die lughawe huil nadat hulle mekaar ’n lang ruk nie gesien het nie.”
Die video is ook goeie bemarking vir die George Adamson-trust wat met wild-bewaring in Tanzanië help.
“Wildstropery is ’n baie groot probleem in die hele Afrika. Dit skep ’n slegte beeld vir Suid-Afrika, wat eens aan die voorpunt teen stropery was,” het Rendall gesê.
Van die wins van sy boekgaan ook aan die George Adamson-trust. Die boek was boaan die Sunday Times se verkoperlys.)Baie Suid-Afrikaners het ook al met die verhaal van Christian die leeu kennis gemaak in ’n TV-advertensie van die Coronation-finansiëlebestuurmaatskappy.
- Volksblad