‘Vars sterre van 2012’ gehuldig
2012-02-03 21:56
LOS ANGELES. – Vanity Fair het vandeesweek die voorblad van sy jaarlikse Hollywood-uitgawe bekend gestel.
Daarop bring Vanity Fair hulde aan die blinkste “vars sterre van 2012”.
“Ons soek aktrises wat goeie werk op die silwerdoek doen.
“En as hulle jonk en mooi is, sal dit gewis niemand seermaak nie,” het die tydskrif se artikelredakteur, Jane Sarkin, in ’n e-pos geskryf.
Aktrises soos Rooney Mara (The Girl with the Dragon Tattoo) en Jessica Chastain (The Help) – wat vanjaar vir Oscars benoem is – verskyn in die uitgawe danksy die impak wat hulle reeds in rolprente gemaak het.
Hulle dra in die fotograaf Mario Testino se Art Deco-fotosessie pastelkleurige rokke, met vere en pelse, wat deur die 1920’s en 1930’s se jazz-era geïnspireer is.
Die 11 aktrises in die Maart-uitgawe sluit sterre in soos Elizabeth Olson (Martha Marcy May Marlene), Shailene Woodley (The Descendents), Paula Patton (Mission: Impossible – Ghost Protocol), Lily Collins (Abduction), Adepero Oduye (Pariah) en Felicity Jones (Like Crazy).
- Reuters