Rosestad se eie ‘rockers’ in aksie
2012-02-02 22:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
ENERGIEK, asemrowend en trots is maar net ’n paar woorde waaraan jy dink wanneer All will fall op die verhoog klim.
Met hul lewendige verhoogoptredes is hulle vir seker ’n groep om dop hou en hulle het dit weer eens die naweek by Sundowners in Johannesburg bewys. All will fall het die gehoor weer behoorlik vermaak en vir almal gewys hoekom kinders net tot 22:00 buite mag bly.
Met ’n nuwe EP-vrystelling wat Februarie op die rakke is met ’n nuwe, meer hardcore klank, kan jy sien dat hulle Suid-Afrikaners nog ’n lang tyd gaan vermaak.
All will fall is ’n groep Bloemfonteiners wat die plaaslike mark oorrompel het en ’n huishoudelike naam in die sentrale streek geword het. Die manne is egter ook besig om hul musiek veel wyer te bemark.
Pedro Jardim (dromspeler) en Craig Cloak (hoofsanger) is die twee mense wat hul storie ken wat bemarking betref.
Tussen opvoerings beweeg hulle tussen die mense rond om te sien dat almal hulself geniet.
Tog glo ek dat hul talent nie net in hul verhouding met hul fan base lê nie, maar in hul lirieke, wat ’n diep maar positiewe gevoel uitstraal.
En met Craig se stem is dit moeilik om nie hoendervel te kry nie. Sy verhoogpersoonlikheid hou boonop almal aan die gang en maak die skare mal.
Sedert 2007 met die vrystelling van hul lied Shadows het hulle reeds meer as een miljoen views gehad op YouTube en gaan verseker hierdie jaar weer die land aan die brand sing.
All will fall lewer weer hul energieke vertoning op 11 Februarie van 20:00 af by Stuck in the Mud in Bloemfontein.
Hulle deel die verhoog met name soos Facing the Gallows en The dead will Tell. Dit beloof om ’n optrede te wees wat nie misgeloop moet word nie.
Mense van alle ouderdomme is welkom en kaartjies beloop slegs R20 per persoon. Kom, ouens, trek in julle hordes op en kom beleef Bloemfontein se eie musiekkrag.

Die manne van All will fall. Van links is Pedro Jardim, Charl Fontini, Dewald Bux, Craig Cloak en Rico Ross.
- Volksblad