Musiek in katedraal ter ere van Bosman
2012-02-01 23:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KOOR- en orrelmusiek uitgevoer deur Bloemfonteinse musici roep Saterdagaand die werk van wyle Arnold Bosman in herinnering. Dié konsert in die Anglikaanse katedraal in Bloemfontein is die derde ter herdenking van dié musiekkunstenaar wat in Italië groot hoogtes in sy loopbaan bereik het.
Lance Phillip van die Odeion Skool vir Musiek (OSM) dirigeer ’n koor saamgestel uit die Odeion-koor, Cathedral Singers en Cathedral Mozart Players.
Hulle sing Fauré se besonderse Requiem, asook Mozart se Missa Brevis in D majeur en Stanford se Evening Canticles en Te Deum in B mol majeur.
Die orreliste is Jan Beukes en Lourie Coetzee van die OSM, Nicol Viljoen, hoof van die OSM, en Maretha Krige, musiekonderwyser aan die Laerskool Eunice.
Bosman is op 4 Februarie 2005 op 47-jarige ouderdom weens ’n breingewas oorlede. Hy was ’n pianis, begeleier, dirigent en historikus en het die laaste paar jaar van sy loopbaan in Bari gewoon waar hy artistieke direkteur van die konserthuis was.
Hy was ook die artistieke direkteur van die Musica Rara-orkes in Milaan.
Dr. Willem Bosman van Bloemfontein het sy seun se musiekbiblioteek aan die Universiteit van die Vrystaat geskenk.
Die uitvoering begin om 19:30 en toegang is gratis. – Elretha Britz
- Volksblad