Marita maak ’n Woordfees-draai
2012-02-07 17:56
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
’n Verrassing wag op boekliefhebbers by vanjaar se US Woordfees in die vorm van die gewilde skrywer Marita van der Vyver. Van der Vyver, wat deesdae in Frankryk woon, tree op as beoordelaar vir die fees se WOORDtroFEE-toekennings en gaan ook as spesiale feesgas oor ‘n plaasmiddagete oor haar nuwe roman gesels.
Dié gesprek vind plaas op 7 Maart op die Knorhoek-wynplaas. Haar uitgewer, Riana Barnard, gaan die gespreksleier wees.
Van der Vyver het laat val dat sy die laaste hoofstuk van die boek wat in Oktober by Tafelberg verskyn eers die afgelope naweek voltooi het. Die manuskrip is trouens nog só vars dit het nie eens ‘n titel nie, sê sy. Die verhaal strek oor drie geslagte van ’n Afrikaanse familie – van Kaapstad in die jare dertig tot Lissabon in die jaar 2000.
Die Knorhoek-optrede van Van der Vyver verskyn nie in die Woordfees se gedrukte program nie, maar lesers en feesgangers kan by Computicket bespreek vir dié optrede wat om 12:00 vir 12:30 in Knorhoek-wynplaas se Towerbosch Aardkombuis plaasvind.
Nog ’n verrassing op die bygewerkte Woordfeesprogram is die teenwoordigheid van die Nederlandse teatergeselskap Theater van de Verloren Tijd. Die gewilde teater-egpaar, Sjon Brands en Dorith van der Lee, ken meer as 600 gedigte in Nederlands, Vlaams en Afrikaans uit hul kop. Op versoek lewer hulle opwindende teatrale vertolkings van dié gedigte.
Hulle bied gratis vermaak aan Woordfeesgangers in die Boektent en Plataan-kafee tydens die feesweek, en tree ook op Saterdag 10 Maart op by die Neerlandistiekdag en Soete Groete.
Die organiseerder het ook laat weet dat die twee Gordimer-geleenthede altwee gekanselleer is, hoewel die gesprek tussen Mongane Wally Serote en Leon de Kock steeds voortgaan.
Die Woordfees skop op 2 Maart af. Meer besonderhede is te kry by www.woordfees.co.za. – Elmari Rautenbach