Jong dirigente kan stok swaai
2012-02-01 23:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
SUID-AFRIKA se enigste kompetisie vir dirigente, die Len van Zyl-kompetisie vir jong musici wat “minstens ’n deel van hul musiekonderrig in Suid-Afrika ontvang het”, word vanjaar die tweede keer aangebied.
Dit gee musiekkunstenaars met hul oog op die dirigeerpodium die geleentheid om die eerste tree in dié rigting te gee.
Die eindronde van dié tweede kompetisie is eers in 2013, hoewel die eerste openbare ronde in Julie in Kaapstad gehou word. Luidens ’n nuusverklaring sal die eindronde deel van die Kaapstadse Somermusiekfees wees. Die kandidate sal in albei openbare rondes die Kaapse Filharmoniese Orkes lei.
In die eerste kompetisie in 2010 het die eindronde onmiddellik ná die tweede ronde gevolg waarna die wenner aangewys is.
Die nuwe wenner se prys sal dieselfde wees as dié van Brandon Phillips, wat die kompetisie in 2010 gewen het.
Dit behels ’n maand lange internskap by die Philadelphia-orkes in Amerika en ’n semester by die Northwestern Orchestra onder dirigent Victor Yampolsky in Chicago.
Die wenner sal ná sy terugkeer ’n uitvoering deur die Kaapse Filharmoniese Orkes dirigeer.
’n Paneel van vyf beoordelaars sal saamgestel word uit toonaangewende musici, wat hopelik ’n internasionale dirigent sal insluit. Die name van die beoordelaars sal later bekend gemaak word.
Die kompetisie is oop vir musici wat Suid-Afrikaanse burgers is en op 1 Januarie vanjaar nog nie 33 jaar oud was nie.
Inskrywings moet die organiseerders op die laatste op 30 Maart bereik. Kandidate wat na die eerste openbare kompetisieronde in Julie deurdring, sal einde April in kennis gestel word.
’n Inskryfvorm asook die reëls kan afgelaai word van die webblad www.cpo.org.za.
Dit kan ook aangevra word deur ’n e-pos te stuur na xtrahand@iafrica.com.
- Volksblad