Johan Degenaar vier 85e by US Woordfees
2012-02-14 20:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
‘n Besonderse meevaller, is hoe die bestuur van vanjaar se US Woordfees dit gestel het toe hulle hoor die bekende filosoof, prof. Johan Degenaar, word 85 tydens die fees. En nie net dit nie, dat ‘n nuwe boek – ‘n bundel van sy laaste reeks lesings by die Universiteit van Kaapstad se Somerskool in die jare negentig – in dié tyd uitgereik word.
Power of Imagination, wat deur Dirk Hertzog uitgegee en deur Alistair Henderson versorg is, word nou op prof. Degenaar se verjaarsdag by die Woordfees se gewilde filosofiekafee bekendgestel en prof. Degenaar op sy verjaarsdag by die fees verwelkom.
Prof. Degenaar het in 2001 ‘n eredoktersgraad van die universiteit ontvang. Laetitia Pople, Die Burger se kunsredakteur, het in 1988 by hom klas gehad en vertel vandag nog: “Hy sou jou sekerhede omdop sodat jy soos ‘n vreemdeling vir jouself voel; jou uitdaag en onthuts, maar terselfdertyd toerus met die soort kritiese gereedskap wat jy jou lewe lank met jou kan saamdra.”
Power of Imagination, sê Henderson – voorheen van die Engels departement aan die US, bestaan uit vyf lesings en ‘n addendum van lesingaantekeninge wat die krag van hierdie filosoof se helder denke voortreflik onderstreep. “Prof. Degenaar het dikwels genoem dat hy veral die laaste twee lesings, die een oor die struggle en die ander oor die rol van die verbeelding in die struggle-konteks, wou laat uitgee.”
Die uitgewer Dirk Hertzog het as student klas gehad by prof. Degenaar, is vandag ‘n sakeman in Pretoria en borg die jaarlikse Filosofiekafee. Hy was een van die samestellers saam met Etienne Britz en Henderson van ‘n huldigingsbundel, Gesprek sonder grense, wat met prof. Degenaar se tagtigste verjaarsdag verskyn het.
Degenaar se boekbekendstelling word opgevolg deur ‘n gesprek in die Filosofiekafee, wat vanjaar opgedra is aan Paul Cilliers. Prof. Degenaar woon deesdae in ‘n aftreeoord op Stellenbosch. Sy vrou, Jetty, is oorlede. – Elmari Rautenbach