Afrikaanse sanger vat man
2010-07-30 12:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Kaapstad - Die bekende Afrikaanse sanger George Meiring (35) het aangekondig dat hy in Desember met ‘n man gaan trou.
Hy en sy verloofde, Brendon Pollock (32), het in ‘n openhartige onderhoud met Huisgenoot hul trouplanne bekend gemaak.
Meiring is die naaswenner van 2006 se Supersterre-sangkompetisie en sedertdien het hy twee CD’s uitgereik, Onthou die Tye in 2007 en Ek Glo in Môre in 2009. Hy is ook in 2008 gekies om die volkslied by verskeie Drienasiesrugbywedstryde te sing.
In die onderhoud met Huisgenoot vertel Meiring, ‘n voormalige Dolce & Gabbana-model, hoe hy Pollock, ‘n danser en choreograaf, by die gimnasium in Oktober 2009 ontmoet het.
“Ek is lief vir Brendon en ek is trots daarop dat ons gaan trou. Ek wil myself nie as ’n leuen verkoop nie; ek wil hê mense moet weet wie ek is,” het hy aan Huisgenoot gesê.
Volgens Meiring het hy al 13 jaar gelede uit die kas gekom.
“Ek het my ouers vertel ek is gay toe my ma my eendag uit die bloute bel en my reguit vra: ‘Is jy gay?’ Ons het die dag baie gehuil – sy was in trane, en ek was in trane omdat ek so verlig was dat ek uiteindelik vir haar kon vertel.”
Lees meer by Huisgenoot.com