Afri-reeks eindig met ’n ‘wow’
2012-01-31 22:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE Suid-Afrikaanse musiek-entrepreneur en pianis Matthys Maree se Afri-reeks, Die CD’s en teaterproduksies Afri-Frans, Afri-Spaans en Afri-Talia, was ’n reuse-projek en verdien om op ’n onvergeetlike noot afgesluit te word, het Maree besluit.
Die hoe en die wat daarvan het hy aan die vervaardiger Alexa Strachan oorgelaat en gesê sy moet met ’n konsep kom.
Sy het. En dié konsep is om die sirkel te voltooi deur terug te keer na Afrikaans, die taal wat geboorte gegee het aan die Franse, Spaanse en Italiaanse liedjies van die CD’s en produksies, waarmee oor die land heen getoer is.
Alexa het egter ’n voorwaarde gestel: “Afri-Kaans op reis gaan net planke toe as Nataniël een van die kunstenaars is. Hy sal hiervan ’n wow-vertoning maak.”
Alexa het meer gekry as waarvoor sy gehoop het. Nataniël sal nie net stories vertel en sing nie, hy het ook ingestem om met die saamstel van die produksie te help.
Die musiek is ’n gegewe. Dit sal ’n keuse van liedjies van die Franse, Spaanse en Italiaanse CD’s wees, maar splinternuut verwerk deur Maree en in Afrikaans gesing – wel, meestal.
Die Afrikaanse sangers is ’n interessante mengsel. Daar is die hartebreker Bobby van Jaarsveld, musikaal-aanpasbare Liesl du Toit van Shine4, gewilde ADAM-trio en die deurwinterde Nataniël.
Sonder die buitelandse sangers, wat kleur en statuur aan die Afri-CD’s en vertonings verleen het, is ’n slotproduksie ondenkbaar.
“Al drie het laat weet hulle kom,” sê Alexa – die fyn Franse sanger Myra Maud van Afri-Frans-faam, die sensuele Marta Gomez van Afri-Spaans en die sjarmante Cristian Mangano van Afri-Talia. Hulle sal dele van liedjies in hul taal sing.
Charl du Plessis, klaviermeester, verwerker en Nataniël se eksklusiewe begeleier, sal die instrumentaliste lei. Dié musikante is Juan Floors Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (baskitaar), Hugo Radyn (tromme) en ’n groot strykerseksie.
“Afri-Kaans op reis gaan ’n flambojante produksie wees,” sê Alexa, wat niks minder as reg is nie nadat meer as 100000 Afri-albums verkoop is en meer as 80000 mense die teaterproduksies bygewoon het.
Sy sê verder “die internasionale sangers het Suid-Afrika een vir een besoek en verhoë gedeel met plaaslike kunstenaars soos Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, San-dra Prinsloo, Anna Davel en Mathys Roets. Nou kry die buitelandse sangers kans om saam deel van die projek te wees.”
Vanweë die groot skaal van die produksie, word net drie bestemmings aangedoen, waarvan Bloemfontein een is.
Afri-Kaans op reis open op 15 April in Pretoria se Nasionale Botaniese Tuin, speel op 17 en 18 April in die Sand du Plessis-teater en eindig op 21 April heel gepas in die amfiteater van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. ) Kaartjies vir die Bloemfontein-vertonings kos R180 en R150 en is reeds te koop. Bespreek by Pacofs by 051-447-7772.
Die produksie word soos met die vorige Afri-vertonings in samewerking met die tydskrif Sarie aangebied.
- Volksblad