e.tv beboet oor beelde van geweld
2012-02-03 21:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
JOHANNESBURG. – e.tv moet R35000 opdok omdat hy grusame beelde van die dood van genl. Moeammar Ghaddafi, voormalige Libiese leier, in sy nuusbulletins uitgesaai het.
Die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) het drie klagtes van kykers ontvang.
Volgens die UKKSA het eNews op 20 Oktober verlede jaar die Subskripsiekode oortree deur nie ’n waarskuwing te gee voordat die gewelddadige beelde uitgesaai is nie. Die kanaal is weens dié versuim met R10000 beboet.
Die kanaal het ook die Subskripsie-uitsaaikode oortree omdat hy op 22 Oktober nie waarskuwings vir die nuushoogtepunte, wat om 09:00, 09:30, 10:00, 10:30 en 11:00 uitgesaai is, verskaf het nie. eNews is met R5000 vir elk van die vyf oortredings beboet.
Die UKKSA het ook bevind eNews het in 11 verskillende nuusbulletins en -hoogtepunte op 20, 22 en 23 Oktober die Gratistelevisie- en Subskripsiekodes oortree.
Gevolglik moet eNews op DStv voor einde vandeesmaand in die eerste vier minute van ’n 19:00-nuusbulletin op ’n Sondag, asook die nuushoogtepunte op ’n Saterdag op ses verskillende tye ’n verklaring deur die UKKSA uitsaai. eNews op e.tv moet dieselfde verklaring gedurende die 19:00-nuusbulletin op ’n Donderdag uitsaai.
Mnr. Vasili Vass, e.tv-woordvoerder, het gister gesê: “eNews bestudeer die uitspraak tans. Ons sal heel moontlik appèl aanteken. Totdat ’n appèlproses begin is, kan ons nie op die verdienste van die saak kommentaar lewer nie.”
- Volksblad