Waterkloof-4-aansoek vreemd, sê regter
2012-02-10 22:03
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
PRETORIA. – Die departement van korrektiewe dienste (DKD) appelleer teen sy eie sukses.
Só het streeklanddros Peet Johnson gister gesê toe hy die DKD se aansoek om verlof tot appèl teen die omskakeling van vonnis van twee van die sogenaamde Waterkloof-4 van die hand gewys het.
Dié aansoek is “baie vreemd”, het Johnson in sy uitspraak gesê.
Johnson het gesê dit kom “daarop neer dat die DKD-kommissaris probeer om op koste van die belastingbetaler teen sy eie departement se sukses te appelleer”.
Johnson het ook beveel dat die DKD mnre. Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk se regsverteenwoordigers, wat senior advokaat Jaap Cilliers insluit, se regskoste moet betaal.
“Die kommissaris het die twee gevonniste persone met koste belas, terwyl hulle nie eens partye in die oorspronklike aansoek was nie,” het die landdros bevind.
Die DKD het in Januarie ’n aansoek om verlof tot appèl by die streekhof geliasseer.
Tiedt en Van Schalkwyk se vonnisse van 12 jaar tronkstraf op aanklagte van moord en aanranding is op 15 Desember verlede jaar omgeskakel na korrektiewe toesig.
Dit het gekom nadat die paroolraad van die Zonderwatergevangenis, waar die twee aangehou is, ’n aansoek om vonnisomskakeling ingedien het.
Die DKD het vyf redes in sy aansoek om verlof tot appèl genoem hoekom hy teen die hersiene vonnis wou appelleer.
Cilliers het gister betoog dat die DKD se aansoek foutief was, omdat dit onder meer Johnson en die twee jong mans as respondente aandui, terwyl Johnson die voorsittende beampte is, en Tiedt en Van Schalkwyk nie die omskakelingsaansoek ingedien het nie.
Johnson het in sy uitspraak gesê hy het Van Schalkwyk en Tiedt se vonnisse in Desember heroorweeg en omgeskakel op sekere voorwaardes.
“Dit beteken geensins dat hulle nou vry is nie. Hulle is steeds onderworpe aan straf.
“Die doel van die DKD is om oortreders te rehabiliteer. In dié geval is hulle as geskikte kandidate bevind.
“Die vonnisomskakeling is met ’n histeriese protes van sekere regslui, kommentators en die opposisieparty begroet.
“Wat verrassend is, is dat die meeste van hulle nie in die hof was tydens die aansoek, of die hof se uitspraak gelees het nie,” het Johnson gesê.
Hy het ook die DKD se oorspronklike weiering om vir Tiedt en Van Schalkwyk vry te laat as “skokkend en minagtend” bestempel.
“Die department het die heroorweegde vonnisse en die vrylatingslasbriewe geminag. Ek het gehoor die twee oortreders se vrylating is gekortwiek.
“Die departement het selfs geweier om te voldoen aan ’n hooggeregshofbevel dat hulle vrygelaat moet word.
“As die regering hofbevele verontagsaam, hoe kan ’n mens van die publiek verwag om dit te gehoorsaam?” het Johnson gevra.
Met verwysing na die DKD se aansoek om verlof tot appèl, het die landdros gesê hy vermoed die DKD wou eintlik ’n hersieningsaansoek indien, maar dít moet in ’n hooggeregshof aangehoor word.
“Dit blyk dat die kommissaris deurmekaar is. Die hof is in die duister oor wat sy eintlike intensie is.”
Johnson het bevind dat ’n paroolraad deur die minister beheer word, nie die kommissaris nie.
“Die raad is ’n onafhanklike liggaam wat net aan die minister verantwoordbaar is. Die raad se besluite is finaal, behalwe as die minister of kommissaris ’n besluit na die paroolhersieningsraad verwys.”
- Volksblad