Vooraanstaande literator sterf onverwags
2011-12-26 20:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
STELLENBOSCH. – J.C. Kannemeyer, literêre reus en een van
Suid-Afrika se grootste biograwe, het op Kersdag aan bloeding op die brein
gesterf.
Hy het kort voor sy dood sy laaste biografie, oor die
Nobelpryswenner J.M. Coetzee, voltooi.
Me. Santa Hofmeyer-Joubert, sy metgesel van die afgelope 14 jaar,
het gister in Kannemeyer se sitkamer gesê hulle het baie dinge saam
gedoen.
“Die laaste paar weke was ons besonder baie bymekaar, want sy boek
was klaar geskryf.
“Al was ek vir hom belangrik, was niks méér belangrik as sy liefde
vir die letterkunde en sy werk nie. Daardie hele grote man was ‘boeke’.”
Hofmeyer-Joubert het nog verlede week saam met Kannemeyer by sy
familie op Robertson gaan kuier. Sy was op Oukersdag op Swellendam toe sy begin
bekommerd raak het omdat Kannemeyer haar nie soos gewoonlik gebel het nie.
Sy het ’n ander inwoner van die aftree-oord Agapé, waar sy en
Kannemeyer in afsonderlike wooneenhede gebly het, na sy huis gestuur.
“Toe hulle nie antwoord kry by sy oop voordeur nie, het die
brandweer die traliehek kom oopbreek. John het op sy bed gelê met bloed wat by
sy mond uitgekom het. Hy is per ambulans na die Stellenbosch Mediclinic
geneem.
“Ek het teen 22:30 van Swellendam op Stellenbosch aangekom, en toe
was daar net masjiene rondom hom. Teen 05:20 Kersoggend is hy dood. Die dokters
reken dit het stadig begin, maar hy is uiteindelik dood aan massiewe bloeding op
die brein,” vertel Hofmeyer-Joubert.
Sy het beklemtoon Kannemeyer wou geen “samekoms” hê nie.
“Hy word net veras. Daar is wel reeds sprake van ’n
huldigingslesing op volgende jaar se Woordfees.”
Uit die motivering wat voorgelees is vir die toekenning van sy
eredoktersgraad aan die US in 2009, lui sy lewensgeskiedenis dat hy op 31 Maart
1939 in Robertson gebore is, waar hy ook skoolgegaan het.
Sy studiejare aan die US vanaf 1957 het gekulmineer in die skryf
van ’n proefskrif onder leiding van D.J. Opperman.
In 1964 het hy die graad D.Lit. verwerf.
Daarna was hy aan feitlik
al die universiteite in die land verbonde, waarna hy in 1992 na Stellenbosch
teruggekeer het om hom voltyds aan navorsing en skryfwerk te wy.
Kannemeyer was vier keer getroud.
Hy laat twee seuns agter, Mark (47) en Anton (45), albei uit sy
eerste huwelik.