Troue dalk ontsier
2012-02-03 22:00
POLITIEKE onrus word vandag op Clarens in die Oos-Vrystaat gevrees, op dieselfde dag wat die Springbokstut Jannie du Plessis hier trou en byna die hele Springbokspan, die nuwe Bokbreier en nog meer as 500 bruilofgaste op die dorp is.
Benewens die troue is daar ook die naweek saamtrekke van ’n BMW-motorfietsklub en ’n Ferrari-motorklub op dié dorp.
Terwyl dit alles aan die gang is, het lede van die sogenaamde Concerned Citizens ’n vergadering beplan waarna hulle die dorp op horings wil neem, het Volksblad betroubaar verneem.
Onrus het die laaste tyd meer as een keer hier opgevlam.
’n Ingeligte in die Dihlabeng-munisipaliteit het gesê geen amptelike aansoek is ontvang vir ’n protesoptog die naweek op Clarens nie, maar onrus kan moontlik uitbreek.
Teen gisteraand was daar ’n sterk polisieteenwoordigheid op die dorp. Na verneem word hou die Staatsveiligheidsagentskap die situasie ook dop.
Du Plessis, self ’n dokter, trou vandag met dr. Ronél Malherbe van Krugersdorp. Dié twee het mekaar ontmoet toe albei medies aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer het.
Sowat 600 gaste, wat byna die hele Springbokspan en die nuwe Bokbreier mnr. Heyneke Meyer insluit, woon die troue by.
Bokke soos Victor Matfield, Juan Smith, Pierre Spies en Heinrich Brüssow asook die hele Haai-span en hul afrigter, mnr. John Plumtree, sal ook daar wees.
Die ontevrede inwoners hier wil glo al die belangstelling in die troue gebruik om hul griewe wyer aandag te laat geniet.
Inwoners het kort ná Nuwejaar onrus, brandstigting en verwoesting gesaai. Onrus het verskeie keer daarna weer opgevlam en tientalle mense is in hegtenis geneem. Hulle is later op borgtog vrygelaat.
Hulle is ontevrede met hul ANC-raadslid, mnr. David Lengoabala.
Die ontstokenes beweer hy is betrokke by tenderkonkelary, is agterstallig met betalings van munisipale heffings op sy huise en hy word beskuldig van baantjies vir ANC-boeties.
Die Openbare Beskermer, adv. Tuli Madonsela, het intussen begin met ’n ondersoek na Lengoabala én tenderongerymdhede in die Dilhabeng-munisipaliteit.
Mnr. Lebohang Mokoena van die Concerned Citizens het gesê hulle is moeg vir Lengoabala “wat maak asof Clarens aan hom behoort”.
Lengoabala sê op sy beurt bewerings teen hom is kwaadwillige politiekery.
Du Plessis kon teen druktyd nog nie vir kommentaar bereik word nie.
- Volksblad