Toeriste Bfn toe om te bad weens dorp se watertekort
2010-06-09 01:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Op Zastron loop daar nou wel nie wilde olifante en leeus in die strate rond nie, maar twee Amerikaanse toeriste kon darem steeds ’n “derdewêreldse gevoel” hier kry.
Só het mnre. Josh Fowler (28) van New York en Esteban Garro (31) van Mexiko gister geskerts nadat hulle 200km moes aflê om in Bloemfontein te kom bad.
’n Waterpomp wat die naweek uitgebrand het, het die hele dorp reeds drie dae lank sonder ’n druppel water gelaat.
Die twee toeriste het mekaar die naweek op Zastron ontmoet en gister Bloemfontein toe gekom om water te kry.
Fowler, ’n verslaggewer, het navorsingswerk in Lesotho kom doen en Garro, ’n IT-spesialis, het by vriende van vriende op Zastron kom kuier voordat hy Kaapstad toe vertrek om die Wêreldbeker-sokkertoernooi by te woon.
Garro sê hy kon drie dae nie bad nie.
“Daar is geen water op Zastron nie. Ek is desperaat om net iewers heen te gaan om te bad. Teen hierdie tyd ruik ek seker nie meer lekker nie.”
Hulle is darem albei baie opgewonde oor Suid-Afrika, Bloemfontein en die Wêreldbekertoernooi. Die waterprobleem pla hulle beslis nie te veel nie.
“Ek is mal oor Suid-Afrika. Ek het dit al selfs oorweeg om aansoek te doen om burgerskap hier. Die ruimte, die mense en hoe dit hier lyk, is vir my ’n bekoring,” sê Fowler.
Garro sê dit is sy eerste keer in Bloemfontein en hoewel hy nog net ’n kort tydjie hier is, is hy reeds mal oor die plek.
“Ek is net skrikkerig vir die hoë misdaadsyfer. Ek het vriende wat nou eers vier dae lank in die land is en reeds twee keer in Johannesburg beroof is.”
Hy sê op Zastron, Reitz en in Bloemfontein voel hy egter baie veilig.
Oor Vrydag se openingswedstryd wanneer Suid-Afrika teen Mexiko speel, sê hy: “Natuurlik gaan ons land (Mexiko) wen. Maar ek sal vir julle duim vashou vir die res van die toernooi.”
Mnr. Jimmy Gertenbach, DA-raadslid op Zastron, sê die twee toeriste hoef nie so ver te gery het vir water nie.
“Hulle kon maar net tot by die eerste rivier buite die dorp gery het,” het hy geskerts.
Hy het die waterprobleme bevestig.
“Maar hier op die platteland is ons al so gewoond aan waterprobleme dat die meeste mense darem voorsiening maak deur boorgate en watertenks aan te bring.”
Gertenbach sê vir mense wat nie voorbereid was nie, is die waterprobleem ’n wesenlike probleem.
“Daar is baie mense op die dorp wat nie ’n druppel water het nie.”
Volksblad verneem ’n waterpomp het die naweek uitgebrand.
Dit sou teen vandag herstel word.
- Volksblad