Suid-Afrikaanse fotograaf wen gesogte toekennings
2012-02-10 22:03
JOHANNESBURG. – Brent Stirton, ’n Suid-Afrikaanse fotograaf, het twee toekennings in die gesogte World Press Photo of the Year-kompetisie gewen.
Meer as 5200 fotograwe van 124 lande het 101254 foto’s vir die 55ste World Press Photo-kompetisie ingeskryf. Die wenners is gister in Amsterdam, Nederland, aangekondig.
Stirton (42) het gister uit New York gesê hy was verbaas en verras.
“Die foto’s is nie hoofstroom-nuus nie en daar het soveel die afgelope jaar gebeur wat meer ‘nuuswaardig’ is. My projekte is nie in die mediakollig nie, maar dit lê my na aan die hart.”
Stirton het sy loopbaan by die tydskrif Scope begin nadat hy sy studie in joernalistiek aan die Durbanse Technikon voltooi het.
Hy het eers op 24-jarige ouderdom “uit noodsaak” begin foto’s neem terwyl hy in 1994 oor geweld in KwaZulu-Natal berig het.
Hoewel hy homself nie as ’n konflikfotograaf beskou nie, is hy gereeld in gebiede van konflik.
Hy het onlangs uit Asië teruggekeer en vertrek volgende week na die Demokratiese Republiek van die Kongo. Stirton hoop om in Julie by sy familie in Suid-Afrika te kom kuier.
“Ek probeer om minstens twee keer ’n jaar huis toe te kom.”
Stirton is die hooffotograaf van die foto-agentskap Getty Images en doen gereeld werk vir National Geographic. Hy doen ook werk vir nie-regeringsorganisasies. In 2006 het Angelina Jolie hom gevra om eksklusiewe foto’s van haar baba Shiloh in Namibië te neem.
“Ek is bevoorreg om soveel werk te kry en na soveel uiteenlopende plekke te gaan.”
Sy wenfoto’s is in die afdelings vir kontemporêre aangeleenthede en natuurfotografie.
Die een is uit sy “Rhino Wars”-reeks, van ’n renosterkoei waarvan die horing en deel van haar kopbeen deur stropers afgesaag is, maar oorleef het. Die ander foto is van ’n dwelmverslaafde sekswerker in die Oekraïne.
Stirton het gesê hy dra sy wenfoto’s op aan Anton Hammerl, ’n Suid-Afrikaanse fotograaf wat verlede jaar in Libië doodgeskiet is.
Die algehele wenner van die kompetisie was Samuel Aranda van Spanje.
- Volksblad