Steve opgewonde oor sy Idols-rol
2010-03-19 01:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
JOHANNESBURG. – Steve Hofmeyr het ’n broertjie dood aan ouers wat dink hul kinders kan sing en dan klink hulle soos ’n kat wat aan sy stert rondgeswaai word.
Maar wanneer hy op 17 April by die Gateway-winkelsentrum in Durban agter die tafel inskuif as ’n beoordelaar vir Idols, sal hy nie beledigend raak nie. En hy sal ook nie huiwer om te verskil van sy mede-beoordelaars, Randall Abrahams, Mara Louw en Gareth Cliff nie.
“Ek sal beslis baie reguit wees en my mening oordra, maar ek stem nie saam met die Randall-ding nie. Daar was al baie kere wat hy neerhalend teenoor iemand was waar ek vir hulle ’n plek in die musiekbedryf kon sien.”
Hofmeyr sê hy is baie opgewonde oor die geleentheid. “Ek is baie tevrede as ek kan bydra tot die ontwikkeling van jong potensiële sangloopbane. Maar om die talent te beoordeel, is vir my belangriker as goeie televisie, daarom gaan ek nie neerhalend wees nie.”
Hy het sy eie lysie waarvolgens hy sal beoordeel, sê hy. “Die liedjiekeuse en genre is net so belangrik as talent. En daar moet ’n mark wees vir hul musiek in Suid-Afrika.”
Omdat hy self ’n sanger is, is voorkoms nie vir hom belangrik nie. “Maar dit is vir die mark belangrik. Daar is platemaatskappye wat vir jou sal sê hulle kan jou nie vat nie, maak nie saak hóé goed jou stem is nie, omdat jy nie die regte voorkoms het nie.
“Dan is daar natuurlik die simpatie-stem. Dink maar aan Susan Boyle van Engeland. Daar is ’n sekere nederigheid by party mense wat hulle baie gewild maak. En as jy verwaand wil wees, moet jy seker wees jy kan dit goed bestuur.”
- Volksblad