Staat sal grens met Lesotho beveilig
2010-06-18 00:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Die Grondwet en alle Suid-Afrikaners is die groot wenners nadat ’n skikking tussen Vrystaat Landbou (VL) en die staat, onder wie pres. Jacob Zuma self, oor die sloerende Lesotho-hofsaak bereik is.
Só het mnr. Louw Steytler, president van VL, gesê toe hy die ooreenkoms aangekondig het nadat mnr. Jan Smit, die VL se regsverteenwoordiger van Naudés-prokureurs, dit onderteken het.
Ingevolge die skikking, wat deur regter A. Kruger ’n bevel van die Vrystaatse hooggeregshof gemaak is, sal die staat sy pligte nakom om die landelike gemeenskappe aan die Lesotho-grens te beskerm.
Die staat sal die heining aan die Lesotho-grens herbou, die grenspad herstel én die polisie word met twee pelotons versterk totdat die weermag dié taak binne twee tot vier jaar oorneem.
Die staat het sy verweerskrif onttrek, wat die weg vir die skikking gebaan het en sal die koste van die regsgeding dra wat drie jaar sloer.
Steytler het gesê dit bring groter veiligheid vir die boere en plaaswerkers aan die grens. Dit sal die grondpryse hier stabiliseer wat waardeloos geword het weens die misdaad. Dit het daarby ook ’n reuse-betekenis vir almal in die land.
“Die oorwinnaars is ons Grondwet en die stem van redelikheid, iets wat almal in Suid-Afrika so nodig het. Dit is ’n oorwinning vir alle Suid-Afrikaners en alle Vrystaters.”
Steytler het gesê as dit nie was dat daar stemme van redelikheid aan albei kante van die debat was nie, sou dié redelike skikking nie bereik kon word nie. Dit raak al die kwessies aan wat VL van dag een aangeroer het.
“Ons is baie dankbaar. Dit is my openhartige mening dat president Zuma en sy presidensie ’n belangrike rol gespeel het om toe te sien dat die skikking bereik word.”
Zuma was die eerste verweerder in VL se eis namens grensboere en verskeie ministers, die nasionale en provinsiale polisiekommissaris, mnr. Ace Magashule, Vrystaatse premier, en van sy LUR’e was onder die ander verweerders.
Die realiteit vir die boeregemeenskappe aan die grens wat so lank gely het onder die misdaad aan die grens, is dat die prentjie nou omgekeer word.
“Hul lewe sal na normaal kan terugkeer. Ek is hartseer dat dit so lank geneem het, want van dié mense se lewe is onherroeplik geraak. Hulle sal nooit ooit dieselfde ekonomiese voetstuk bereik nie, omdat hulle soveel jare se produktiewe lewe verloor het,” het Steytler op ’n nuuskonferensie by VL se hoofkantoor in Bloemfontein gesê.
“Ek praat nie net van wit kommersiële boere nie. Ek praat van swart lede van Vrystaat Landbou wat selfs erger geraak is deur die onvermoë van die staat om reg en orde hier toe te pas.”
Een swart lid wat na Bloemfontein gereis het om sy lidmaatskapgeld te betaal, moes terug op sy plaas uitvind al sy vee is gesteel.
“Dit is die realiteite waarmee ons soveel jare lank gewerk het. Hoewel die staat se standpunte in my oë onverdedigbaar was, het hulle aan die redelike eise van Vrystaat Landbou toegegee.”
Op ’n vraag oor geldelike uitbetaling aan die boere het Steytler gesê: “Gegewe dat die staat toegegee het tot ons eise en ons ver gegaan het om die staat se medepligtigheid te bewys tot die geldelike posisie waarin dié mense hulle bevind, is dit vir elke individu self om te besluit of hulle regstappe teen die staat in dié verband gaan instel.”
Dié stappe volg op grens
Die staat gaan die volgende stappe aan die Lesotho-grens met die Vrystaat van 487 km aanpak ingevolge die skikking met Vrystaat Landbou:
- Die grensheining tussen Kornettspruit, Zastron, en die Caledonrivier by Wepener gaan eerstens teen R5,5?miljoen herbou word;
- Die departement van landbou gaan boere aan die grens R50000/km betaal vir die oprigting van ’n jakkalsbestande heining van 1,5 m. Dit sluit koste vir arbeid en materiaal in;
- Die 130 polisielede aan die grens is met twee pelotons van 72 lede aangevul; en
- Die staat het soekligte, nagsigtoerusting, verkykers, kamoefleernette, radio’s en 16 voertuie vir die grenspatrollies aangeskaf. Sewe viertrekvoertuie is reeds gekoop en 11 sal in Julie beskikbaar wees.
- Volksblad