Soldate gaan help in Hoedspruit
2012-02-02 22:32
BETHLEHEM. –- Altesaam 25 soldate van die dorp is na Limpopo gevlieg om hulp te verleen in die vloedgeteisterde Hoedspruit-gebied.
Nuuskieriges het hulle vandeesweek na die lughawe op Bethlehem gehaas om te kyk hoe daar die eerste keer in ’n dekade weer ’n Hercules C-130-vliegtuig van die lugmag hier land.
Dié Hercules, beter bekend as ’n Flossie, het van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria af hierheen gevlieg om soldate van 2 Veldgenieregiment op te laai en vir hulpverlening na die vloedgeteisterde Hoedspruit-gebied te bring.
Een van die leiers van die noodlenigingspan, lt.kol. Pedro Chiaperini, het gesê soldate gaan help met watersuiwering om mense se nood te help verlig.
Dié gebied sit met geweldige waterbesoedelingsprobleme ná die onlangse oorstromings.
Die soldate sal vir ’n onbepaalde tyd in die Hoedspruit-gebied ontplooi wees.
Chiaperini, van Pretoria, was vroeër ’n lid van 2 Veldgenieregiment. Lt.kol. Gerrie Engelbrecht was die vlieënier.
- Volksblad