Sesde verdagte se naam bekend
2011-03-01 06:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
LINDLEY. – Die minderjarige verdagte in die hofsaak oor die koelbloedige moord op die gesin Potgieter is nie meer minderjarig nie, en sy naam mag nou ingevolge wet die eerste keer bekend gemaak word.
Hy is Diphapang Motaung, wat saam met nog vyf verdagtes van die grusame plaasmoord op mnr. Attie Potgieter (40), sy vrou, Wilna (36), en hul dogtertjie, Wilmien (2), van die plaas Tweefontein in die distrik aangekla word.
Sedert sy laaste hofverskyning het Motaung op 17Februarie verjaar en 18 jaar oud geword. Hy is sedert sy verjaardag van die Kroonstad-jeugafdeling na die Kroonstad-gevangenis oorgeplaas. Hy sou vanjaar in gr. 11 gewees het.
Die gesin Potgieter is in Desember 2010 laatmiddag buite hul huis oorval. Mnr. Potgieter is buite die huis dood waar hy met ’n panga agter die kop gekap is. Mev. Potgieter en klein Wilmientjie, soos sy genoem is, is albei in die agterkop binne die huis geskiet.
Die verhoor is gister weer tot Dinsdag 22 Maart uitgestel. Die verdagtes sal dan weer op Lindley verskyn.
Volgens inligting van die Regshulpraad van Suid-Afrika, wat Motaung verteenwoordig, het Motaung verlede jaar gr. 10 aan die Hoërskool Phukalla, Lindley, voltooi.
Hoewel sy regspan vroeër aangevoer het dat borgtog aan hom toegestaan moet word omdat hy nog sy skoolloopbaan voltooi, is hy soos die ander borgtog geweier.
Volksblad het vertroulik by ’n polisiebeampte verneem dat Motaung in die jeug-afdeling as ’n “gevaarlike, vermeende misdadiger” in afsondering aangehou is.
- Die ander verdagtes in die saak is mnre. Telleko Sex Seekoei (19) en Tshololo Tello Mischach Letala (18), soos Motaung van die Ntha-woonbuurt, asook drie plaaswerkers van die vermoorde mnr. Potgieter – mnre. Stemmer Boy Mofokeng (22), Tapa Mopontola Mofokeng (23) en Paulus Samson Vusimuzi Khumalo (22).
- Volksblad