Ses sterf toe vragmotor omslaan
2010-09-07 03:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
QWAQWA. – Ses mense is dood nadat ’n oop vragmotor met tussen 50 en 60 City Spurs-sokkerspelers en -aanhangers op, in ’n pas omgeslaan het.
Altesaam 13 beseerde jong mans, onder wie drie kritiek beseer en een vermoedelik verlam is, was gister steeds in verskillende hospitale in die Oos-Vrystaat ná die grusame ongeluk Sondagoggend.
Die vragmotor was glo van Tseki na Seroali onderweg waar die City Spurs om 11:00 teen die African Stars in ’n toernooi sou speel.
Die remme van die swaargelaaide vragmotor het na bewering op die afdraand onklaar geraak.
Een van die beseerdes wat in die Dihlabeng-hospitaal op Bethlehem opgeneem is, is volgens ingeligtes moontlik verlam.
Dr. Seati Moloi, woordvoerder van die Manapo-hospitaal in Qwaqwa, sê altesaam 32 beseerdes is Sondag hier behandel.
Nóg beseerdes is na ander hospitale gebring.
Vyf jong mans is op die toneel dood en een kort voordat hy per helikopter na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gebring kon word.
“Ons kon nie al die beseerdes hanteer nie en moes ander hospitale se hulp inroep. Agt beseerdes is na die Dihlabeng-hospitaal op Bethlehem gebring, van wie twee steeds kritiek is. Een is na die Hoogland-Medi-Clinic gebring. Hy is ook steeds kritiek.
“Ons het ook op een pasiënt hier by Manapo geopereer. Hy is ook steeds ernstig,” sê Moloi.
Mnr. Combo Maleke, bestuurder van die African Stars, was saam met die City Spurs-klublede en aanhangers agter op die voertuig.
“Dit was verskriklik. Ek is bly ek het die ongeluk oorleef,” het hy gesê.
Nasionale en plaaslike lede van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) het gister die familielede van die oorledenes in Qwaqwa gaan besoek.
Mnr. Steven Mofokeng, ondervoorsitter van Safa in die Thabo Mofutsanyana-distrik, sê ’n massabegrafnis en roudiens word vir Saterdag beplan.
Hy sê Safa dra geld by om die oorledenes te begrawe.
- Volksblad