Seremonies ontstel
2012-01-03 20:54
MET sowat 100 huidige en oud- staatshoofde wat eerskomende naweek vir die ANC-eeufees op Bloemfontein toesak, gaan streng sekuriteitsmaatreëls vir hul veiligheid toegepas word.
Terwyl dit gister steeds ’n geskarrel ter voorbereiding van dié fees was, het die bewindsparty onder skoot gekom weens tradisionele reinigingseremonies en voorvaderlike gebede wat as deel van die fees beplan word.
In ’n e-pos wat die ronde gedoen het, is ’n ernstige gebedsversoek aan Christene gerig oor die “ANC-plan om Suid-Afrika, in navolging van die destydse Zimbabwe-patroon aan die voorvaders te offer en terug te gee”.
Op ’n besoek aan die Wesleyaanse skoolkerkgeboutjie in Fortstraat in Waaihoek, Bloemfontein, gister is die nuwe klipkraal langs die gebou aan Volksblad uitgewys as die plek vir seremonies wat aan die voorvaders se werk, gebede en optredes deur tradisionele geneeshere gewy sal word. Dié kraaltjie met sy misvloer het ’n steensirkel waar onder meer wierook gebrand sal word.
Mnr. Jackson Mthembu, nasionale ANC-woordvoerder, het gesê ’n nagwaak en ’n reinigingseremonie word op 6 en 7 Januarie by die kerkskool gehou. “Ons praat ook dan met die geeste van die ANC-stigters wat ons reeds verlaat het.”
Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het gister gesê dié party gaan vooraf elke provinsie “aan die Here Jesus Christus toewy, sodat wat die ANC dan ook al ná ons in die gees doen onwettig sal wees”.
Hy dra nie kennis van die e-pos nie, maar het gesê diegene wat meen Suid-Afrika kan die Zimbabwe-pad volg as die land aan voorvadergeeste opgedra word, is nie ver verkeerd nie. “Kyk na die verval in Haïti ondanks miljoene rande se ontwikkelingshulp. Dis wat gebeur as Christene nie opstaan en sê ons glo in die ware God nie.”
Hy het Christene versoek om hulle nie te laat mislei deur te glo hulle kan in Jesus Christus, wat uit die dood opgestaan het, én in afgestorwe voorvaders glo nie.
Mthembu het gesê lede van die weermag, polisie en private sekuriteitsfirmas gaan op sleutelplekke ontplooi word om die veiligheid van belangrike gaste en feesgangers te verseker. Hy wou egter niks verklap oor dié veiligheidsplanne nie, maar het bevestig dat pres. Jacob Zuma en adj.pres. Kgalema Motlanthe vandag in Bloemfontein is om hulself van die voorbereidings te vergewis. Sover het die ANC die name van besoekende staatshoofde dig gehou. “Van die name sal môre bekend gemaak word.”
Die feesvieringe bereik Sondag ’n hoogtepunt in die Vrystaat-stadion waar Zuma sy feesrede sal lewer. Die vorige nag om middernag sal Zuma ná die reinigingseremonie ’n vlam aansteek wat die ANC se oorgang na sy tweede bestaanseeu inlui.
Al is sedert die Kersvakansie 24uur per dag gewerk aan die feesreëlings, hou Mthembu daarby dat alles vlot verloop.)Op ’n geslote vergadering gister in die ANC se provinsiale hoofkantoor het mnr. Fikile Mbalula, minister van sport, Vrystaatse ANC-hoës uitgetrap oor binnegevegte in die party se provinsiale strukture. “Die ANC-eeufees is groter as enige geskille tussen julle. Dis ’n geleentheid van nasionale belang.”
Me. Baleka Mbete, nasionale ANC-voorsitter, het Mbalula se woorde beaam.

Vandag is eintlik die laaste dag vir voorbereidings vir die ANC se eeufeesviering. Van môre af daag al hoe meer mense en hoëlui van oor die wêreld op. By die Wesleyaanse kerkskooltjie onder die ou kragstasie se koeltorings, waar die ANC gestig is, was restourasiewerk gister amper klaar. Een deel van die geboutjie se mure word oorspronklik gehou sodat mense kan sien hoe dit vroeër gelyk het. Van die oorspronklike kerkbankies is ook in die gebou teruggeplaas. Foto: willem van der berg
- Volksblad