Sakeman praat oor afpersing
2012-02-02 22:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KROONSTAD. – “Toe ek Woensdagaand uit my huis stap om die geld aan die afpersers te gaan oorhandig, het ek my ouers, my vrou en kinders gegroet.
“Ek het nie geweet of ek hulle weer lewend sou sien nie.”
Só begin ’n gesiene sakeman van Kroonstad se vertelling van die gebeure Woensdag wat tot die inhegtenisneming van ses Paki-stani’s en die einde van maande van hel gelei het.
“Die plaaslike polisie het reeds maande lank van die dinge geweet. In Januarie het dit onuithoudbaar geword en ek is op aanbeveling van my kerkleiers na Stop Misdaad.
“Ek het op hoë vlak met iemand gepraat en Woensdagoggend was kapt. Karin Herbert van die Valke en haar span hier.
“Sy het vir my gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie, ons is hier vir jou, gaan aan met jou lewe’.
“Dit was die wonderlikste woorde wat ek ooit gehoor het. Dit was of ’n groter familie nou vir my gesin gesorg het.
“Nogtans het ek my mense gegroet met die wete dat ek hulle dalk nie weer sal sien nie,” vertel die sakeman.
Hy sê Herbert en haar span het alles uiters professioneel gehanteer.
“Hulle het ons presies vertel wat, hoe en waar alles gaan gebeur.
“Hulle het ons so gerus gestel soos wat hulle moontlik kon,” sê hy.
Hy sê die maande van angs wat hulle moes deurmaak het daartoe gelei dat sy oudste dogter epileptiese aanvalle gekry en sy jongste dogter snags by hom en sy vrou in die bed geslaap het. Sy was vanjaar reeds ’n paar dae nie skool toe nie omdat sy te bang was.
“Toe die afperser my die eerste keer in Julie 2011 gebel en gesê het ek en my gesin gaan doodgemaak word as ek nie betaal nie, het ek vir hom gesê die Here beskerm ons.
“Ons het egter nooit geweet wat volgende kom nie.
“Jy vra my hoe dit gaan. Met my en my gesin gaan dit nou baie goed.
“Allereers gaan my dank aan die Here en dan aan hierdie polisiebeamptes vir wie ek net die hoogste lof het.”
- Volksblad