Pekinees by hondesalon dood
2012-02-01 23:00
’n GESIN van Bloemfontein is erg geskok gelaat nadat hul jong pekinees-hondjie skielik met ’n besoek aan ’n plaaslike hondesalon dood is.
Die Richardson-gesin sukkel om te aanvaar dat hul tweejarige hond, Tekkies, wat net vir ’n bad- en skeersessie moes gaan, glo kort ná haar aankoms by die Brakenjan-hondesalon in Oranjesig dood is.
Mev. Violet Richardson sê haar dogter, Samantha (14), ’n enigste kind, sukkel veral om die dood van haar hond te verwerk.
Sy sê ’n werknemer van Brakenjan het die hond Maandagoggend by hul huis in Wilgehof opgelaai en na die salon gebring.
Nie lank nadat die hond gehaal is nie, het ’n vrou gebel en gesê: ‘Mevrou, ek is jammer om vir jou te sê, maar jou hond is dood.’ Ek het net gesê dit kan nie wees nie! Ons hond was blakend gesond!”
Hulle het daarna nooit weer die hond gesien nie.
“Dít is wat my hart so seer maak. Ek weet nie wat is die waarheid nie. Ek kyk na haar leë beddegoed. Ons het van haar goedjies uitgeskuif, maar dis nie meer dieselfde nie – jy was haar roetine gewoond. Mense sê dis simpel, dis net ’n hond, maar vir ons was sy soos ’n kind in die huis.”
Sy beweer hulle het nie die nodige toestemming vir die nadoodse ondersoek gegee nie.
“Ek het slegs gesê dat hulle Tekkies na ons veearts kon neem.”
Mev. Marla Wilken van Brakenjan, wat al die koste van die dooie hond gedek het, sê dit was vir haar ook ’n groot skok. “Die hond was op die tafel en het net spontaan begin urineer, toe is sy dood. Ons het nog nie eens aan die hond begin skeer nie.”
’n Veearts, wat verkies om anoniem te bly, het op navraag van Volksbladbevestig die hond is aan ’n hartaanval dood. Hy sê daar was geen ander trauma aan die hond nie.
“Ons kyk vir bloeding onder die vel, in die oë ensovoorts. Ons het ’n volledige outopsie gedoen.”
Hy sê hy het aan mev. Richardson verduidelik dat dit beter is as hulle die hond se oorskot van kant maak omdat haar organe as deel van die volledige prosedure uitgehaal is. “Dit was nie van toestik en teruggee nie. ’n Mens besef hulle wil die hond self begrawe, maar onder sulke omstandighede stel ons eerder voor dat ons dit doen.”
- Volksblad