Parapleeg vertel van nag van hel
2012-02-08 22:20
WELKOM. – “Ek voel vuil, misbruik, verneder. Wat maak ’n mens, hóé vorentoe?”
Terwyl trane in sy oë opdam, maak mnr. Thys Henzen (43) sy hart oop en praat vanuit sy rolstoel vir die eerste keer in meer as ’n week oor ’n tweede ingrypende gebeurtenis in sy lewe wat hom nou verpletter het.
Hy is op 29 Januarie hardhandig deur die polisie in sy huis in hegtenis geneem, glo aangerand, agter in die polisievoertuig gegooi en enkele ure later is hy gewelddadig in die polisieselle verkrag.
Hy is deur ’n dokter ondersoek, moet antiretrovirale middels gebruik en bid elke dag dat hy ná die venstertydperk van 30 dae die goeie nuus sal kry dat hy nie MIV-positief is nie.
Mense wat ’n huis met hom gedeel het, het dié Saterdag vriende oorgenooi vir ’n partytjie. Iewers in die aand het hy sy hand met sy glas daarin op sy rolstoel se ysterreling gestamp en die glas het gebreek. Uit skok het hy sy hand opgeruk en per ongeluk ’n man wat langs hom gestaan het, daarmee in die arm raakgesteek.
Dié man wou nie rede verstaan nie en het die polisie gebel.
By hul aankoms daar het Henzen probeer verduidelik, maar is hardhandig gegryp en pepersproei is in sy mond gespuit. Toe hy hom in reaksie verset, is hy uit sy rolstoel geruk, tot in die voortuin gesleep en daar in die vangwa gegooi.
Nadat met hom rondgery is, is langs ’n donker pad gestop en hy is in die ligte van die voertuig glo verder aangerand. Drie blikkies pepersproei is glo op hom leeggespuit.
Hy is daarna in die selle in Welkom toegesluit. Teen 03:20 het een van die aangehoudenes vir hom gesê hy moet op ’n kombers lê, hy kan nie die hele nag in sy rolstoel sit nie. Daarna het een hom agter sy kop vasgetrap, sy hemp opgerol agter sy rug vasgegryp en ’n vuil kombers in sy mond gedruk. ’n Tweede man het hom toe verkrag.
Die volgende oggend het die stasiekommissaris, brig. Mzondi Mojafi, en kol. Ben van Wyk hom daar gekry en gereël dat hy spesiaal met ’n voertuig na die hof gebring word. Daar is die verhoor teen hom uitgestel, maar die klaer het intussen die aanklag teruggetrek.
Henzen het ’n week lank gewik en geweeg of hy sy storie moet vertel en ’n klag by die polisie moet indien. “Ek is bang vir vergelding van die polisie se kant. Ek is eintlik magteloos om myself te verdedig as iets sou gebeur. En dan is daar die vernedering...”
Volksblad het Henzen gister in kontak gebring met die ondersoekers van die polisie se afdeling teen seksuele misdrywe, waarna hy die klag ingedien het. Daar is ook gereël dat hy berading ontvang.
Hy is ’n parapleeg sedert hy sewe jaar gelede ernstig in ’n tref-en-trap-ongeluk op Sasolburg beseer is.
Henzen moet die antiretrovirale middels self betaal en kan dit met sy karige inkomste nie bekostig nie. Hy het dringend geldelike hulp nodig. Dié pille dra hy oral met hom saam.
Sy derdeparty-eis ten opsigte van die destydse ongeluk is steeds nie afgehandel nie.

Die skoengrootte-kneusing op die regtersy van mnr. Thys Henzen waar hy na bewering deur ’n polisieman getrap is. Foto: Verskaf
- Volksblad