Oproep laat Ina Bonnette sidder
2012-02-10 22:04
MODIMOLLE (Nylstroom). – “Ek sien jou, maar jy sien my nie.”
Dié woorde van ’n manstem wat sy nie kon eien nie, het me. Ina Bonnette gister uit die hof hier gehou waar haar vervreemde man en die drie mans wat hy na bewering gehuur het om haar te verkrag, weer verskyn het.
Mnr. Johan Kotzé (50) en sy drie medebeskuldigdes, mnre. Andries Sithole (42), Peter Mohlako (34) en Frans Mphaka (38), word onder meer ook van die moord op Bonnette se seun, Conrad, aangekla.
Bonnette, wat die hofverskyning wou bywoon om te wys Kotzé het haar “nie gebreek nie”, het die oproep eergister by haar werk ontvang.
Dis nie duidelik of dit Kotzé of ’n vriend van hom was wat gebel het nie. Bonnette kon die stem nie herken nie.
Adv. Renier van Rooyen, staatsaanklaer, het Bonnette daarna aangeraai om nie hof toe te gaan nie.
Me. Elize Coetzer, ’n goeie vriendin, het gesê Bonnette is ná die oproep “emosioneel weer terug waar sy was net ná die aanval”.
Kotzé het gisteroggend in die hofselle egskeidingsdokumente ontvang. Die egpaar is in Oktober 2010 getroud en is sedert begin verlede jaar vervreemd.
Mnr. Rehan Coetzee, sy prokureur van Steenkamp, De Villiers & Coetzee in Bloemfontein, het aan Volksblad gesê die firma het Kotzé aangeraai om nie nou om borgtog aansoek te doen nie. “Die tyd is nie nou geleë nie.”
Volgens Coetzee het hy die staat gevra om die dossier aan hom beskikbaar te stel. Hy sal dit nou deeglik bestudeer. “Daar is ’n groot kans dat ons in ’n later stadium sal aansoek doen om borgtog.”
Coetzee het gesê Kotzé word in ’n enkelsel in die Pretoria Sentraal-gevangenis aangehou. “Hulle kyk mooi na hom.”
In teenstelling met sy vorige hofverskyning was Kotzé gister skoongeskeer. Hy het ’n wit en blou geruite hemp en ’n donkerblou denimbroek aangehad.
Sy stiefdogter, Angelique Bonnette (16), het in die voorste hofbank gesit.
Sy het sigbaar gebewe toe Kotzé voor haar in die beskuldigdebank gestaan het. Hy het haar 19-jarige broer glo op 3 Januarie doodgeskiet.
Angelique het ná die hofverskyning gesê: “Ek het niks om vir hom te sê nie. Ek gaan nie my asem op hom mors nie.”
Me. Kayla Beukes, Conrad se vriendin, het haar ondersteun. Hulle het hande vasgehou in die hofbank.
Sowat 30 vroue met pienk T-hemde het gisteroggend voor 09:00 na die hof geloop. Op van hul hemde het “Vir Ina” gestaan. Bykans 150 lede van die ANC-vroueliga in Limpopo het ook voor die hof betoog. Plakkate met die woorde “Kotzé en cronies must face the music” en “Real men don’t kill” is rondgeswaai.
Nadat Kotzé en sy drie medebeskuldigdes in ’n gepantserde voertuig by die hof aangekom het, het betogers om die hofgebou na die voordeur gehardloop en geskreeu: “Daai bliksem is klaar binne.” Hulle het ook verskeie vloekwoorde geskreeu.
Mense het mekaar by die ingang na die hofgebou vertrap om in die hofsaal te kom.
Landdros Hannes Stoffberg het gelas die drie mans wat glo deur Kotzé gehuur is om Bonnette te verkrag, mag nou wel geïdentifiseer word.
Sithole, Mohlako en Mphaka het hul baadjies oor hul gesigte getrek gehou totdat die fotograwe die hofsaal verlaat het.
Kotzé het nie met die drie gepraat nie. Die vier mans staan tereg op 17 aanklagte elk. Die saak is tot 11 Mei uitgestel.
- Volksblad