Nuwe vrae oor twee stralers
2012-02-03 22:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE Nigeriese sakeman aan die stuur van Adoair wat teen R800miljoen twee stralers vir vyf jaar aan die Presidensie wil verskaf, het nou ’n staatsekerheids-klaring gefaal.
Volksblad het vasgestel daar het vrae ontstaan rakende staatsekerheidsklaring oor Adoair se mnr. Adegboyega Olulade, ’n Nigeriër met uitgebreide sakebelange in Suid-Afrika. Dit is bevestig deur twee onberispelike en onafhanklike ingeligtes op die hoogste vlak.
Besonderhede oor die sekerheidsklaring is nie bekend gemaak nie, maar dit het ook bekend geword dat Olulade sekuriteitsdienste en vlugte vir eksklusiewe kliënte aanbied deur die groep ACG World, wat hy onder meer saam met dr. Niel Barnard, intelligensiehoof van die vorige regering, en mnr. Danie Joubert, besturende direkteur van Adoair, aanbied.
Die departement wou amptelik geen vrae beantwoord oor die sekerheidsklaring-kwessies of redes verskaf nie oor hoekom daar ondanks vrae oor Adoair steeds met onderhandelings met die groep voortgegaan word.
Me. Shamima Olulade, wat in die tyd dat interne vrae oor Adoair in die departement opgeduik het as direkteur van Adonai Aviation (wat as Adoair sake doen) aangestel is, wou geen vrae oor haar skielike betrokkenheid by Adoair beantwoord nie. Haar man, Adegboyega, het ook nie op geskrewe vrae geantwoord nie, maar telefonies uit Nigerië gesê hy wil weet waarom al die vrae aan hom gestel word en of hy hom in ’n geregshof bevind.
Dít is die jongste wendings in ’n uitgerekte sage wat in die hof gaan draai het tussen Adoair, wat as voorkeurdiensverskaffer aangewys is, en die departement van verdediging oor ’n tenderkontrak wat nooit onderteken is nie. Adoair hou vol hy is as die voorkeurdiensverskaffer aangewys en dring daarop aan dat die departement ’n kontrak met hom teken.
Die omstredenheid rondom die tender, asook ander onlangse BBP-vlugvoorvalle is reeds maande lank groot nuus. Dit het onder meer regstreeks daartoe gelei dat me. Mpumi Mpofu, vorige direkteur-generaal van verdediging, asook genl. Carlo Gagiano, hoof van die lugmag, verlede jaar bedank het.
Die regsgeding van Adoair het etlike maande gelede begin nadat onder meer ’n groep generaals die tenderaansoeke beoordeel het. Vrae het later by tegnokrate ontstaan, met die gevolg dat ’n kontrak nooit onderteken is nie. In hofstukke hou Adoair vol dat die departement nie die kontrak wil teken nie en ook nie redes aanvoer waarom nie.
Die departement van verdediging het in hofstukke geen woord gerep oor die sekerheidskwessies nie, maar die nuwe DG van die departement, dr. Sam Gulube, noem in ’n beëdigde verklaring dat die departement van sekere onreëlmatighede bewus geword het en dat ’n interne ondersoek tot sekere vrae gelei het.
- Volksblad