Myn-debat keelaf gesny
2012-02-10 22:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KAAPSTAD. – Pres. Jacob Zuma het gisteroggend sy stilswye oor die nasionalisering van myne verbreek en die debat hieroor in die ANC-hoofstroom blykbaar keelaf gesny.
Zuma was die genooide spreker op die New Age se ontbytpraatjie by GrandWest in Goodwood waar hy die sakegemeenskap hieroor probeer “gerusstel” het.
Die praatjie is op die televisieprogram Morning Live uitgesaai etlike dae ná die mynbou-indaba in Kaapstad.
Zuma het herhaaldelik beklemtoon dat nasionalisering nié ANC-beleid is nie. “Ek verstaan nie hoekom mense hiermee worstel nie. Ons beleid is duidelik en nasionalisering is nie ons beleid nie.”
Hy het voorts onder luide applous gesê die kwessie het ter sprake gekom toe die ANC-jeugliga dit geopper het.
“Wanneer kwessies geopper word, word dit aan ANC-prosesse vir bespreking onderwerp. Alle kwessies wat deur ’n struktuur of ’n ANC-lid geopper word, word aan dié prosesse onderwerp wat dan in nasionale beleid kan eindig.”
Sy uitsprake kom kort nadat mnr. Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van Cosatu, vroeër vandeesweek gemaan het teen leiers wat hulle voortydig uitspreek oor voorgestelde beleidskwessies wat nog nie behoorlik op ’n beleidskongres bespreek is nie.
Zuma sélf het gister gesê slegs die nasionale beleidskongres (in Junie) kan aanbevelings hieroor na die nasionale kongres (in Desember) stuur.
“En slegs dan kan daar oor ’n kwessie besluit en gesê word dit is beleid. Dit beteken nie een mens kan ’n siening opper en dan is dit beleid nie. Die ANC-regering sê nasionalisering is nie sy beleid nie – ons beleid is dié van ’n gemengde ekonomie.”
In politieke kringe word gesê die kwessie vir sakelui verskuif nou van die woord nasionalisering na ander maniere waarop die regering sy mag oor dié sektor wil laat geld – soos met die voorgestelde super-belasting.
’n Onafhanklike studie oor die haalbaarheid van die nasionalisering van myne wat die ANC self aangevra het, het die ANC-leierskap hiervan afgeraai.
Na berig word, stel die verslag eerder ’n 50%-belasting op mynbouwinste voor om armes beter by die land se minerale te laat baat vind.
Mnr. Kenny Bafo, politieke ontleder aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het gesê hy twyfel of Zuma se woorde noodwendig die einde van die kwessie is.
“Dit kan hoogstens gesien word as Zuma wat sy magsposisie wys noudat (mnr. Julius) Malema nie meer in die prentjie is nie.”
Zuma het voorts oor die kwessie van werkskepping gesê die ANC-regering het “in omstandighede nie sleg gevaar met werkskepping nie”.
“Die feit dat ons werk geskep het ondanks moeilike globale ekonomiese toestande, spreek boekdele, al is dit nie naastenby genoeg nie.”
Die werkloosheidsyfer draai reeds by nagenoeg 23%.
- Volksblad