Melkboer vermoor, sy vrou aangerand
2012-02-20 22:53
FOCHVILLE. – Vyf rowers het ’n melkboer en sy vrou gisteroggend oorval toe hulle koeie gemelk het en die boer doodgeskiet.
Nadat die rowers gevlug het, het die egpaar se boerboel, Caesar, die koord losgewoel waarmee die aanvallers die boervrou se voete vasgebind het.
Me. Bernadette Hall (44) kon eers toe na haar man, David (48), hardloop waar hy enkele meters van die melkery in die gras gelê het. “Hy het net stil daar gelê,” het ’n erg getraumatiseerde me. Hall gistermiddag huilend vertel.
Haar man is aangerand en in die bors geskiet.
Die Hall-egpaar het omstreeks 06:00 koeie gemelk toe mev. Hall die mans deur die mielieland aangestap sien kom. “Ek het vir my man geskree hulle kom en het ’n geweer. David is uit, maar die honde het my gekeer om uit te beweeg.”
Mev. Hall het kort daarna twee skote gehoor. Die rowers het haar toe na die plaashuis ’n ent van die melkery gedwing. “Ek het hulle met ’n pyp en my vuis geslaan.“
Die rowers het mev. Hall met ’n panga, geweer en pyp oor die kop en lyf geslaan. Sy moes steke aan haar een vinger kry waar sy vir die panga gekeer het. “Hulle wou geld en gewere hê. Ek het kleingeld en ons beursies vir hulle gegee en die kluis oopgesluit.”
Die rowers het egter niks gevat nie en net met die egpaar se Nissan Almera gevlug nadat hulle mev. Hall in die motorhuis vasgebind het.
Nadat Caesar haar bevry het, het sy eers na haar man se lyk gehardloop en toe per radio hulp ontbied. Ander boere en die polisie was blitsig op die toneel.
Een boer het vertel mev. Hall was “buite haarself”.
Mnr. Hall se bejaarde ma, Joan, en ander familielede het mekaar gister op die toneel vertroos terwyl die lyk van die toneel verwyder is.
“Ons kan nie beskryf hoe ons voel nie, dis so onnodig,” het mnr. Peter Hall, die vermoorde mnr. Hall se broer, gesê. “David het kos op mense se tafels gesit en nou is hy vermoor.”
Die Hall-egpaar se twee seuns en hul ma sal nou alleen aanhou boer. “Die boerdery was my pa se droom en passie,“ het mnr. Bradley Hall (23) gesê.
Die Halls se Almera is enkele ure ná die moord verlate in die Kokosi-township naby Fochville gevind, het kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, gesê. Niemand is teen druktyd nog in hegtenis geneem nie.
Mnr. Chris Hattingh, DA-leier in Noordwes, het gister gesê meer as die helfte van plaasmoorde wat tot dusver vanjaar in Suid-Afrika gepleeg is, was in Noordwes. “Hier is ’n groot leemte in landelike veiligheid.”

Van links is mnr. Peter Hall, broer van die vermoorde mnr. David Hall, die vermoorde mnr. Hall se seun, Bradley, en dié se vriendin, me. Melissa van Vollenstee, mev. Michelle Hall, die vermoorde Hall se skoonsuster, en mev. Joan Hall, die slagoffer se ma. Foto: Felix Dlangamandla
- Volksblad